Kinders, SM besoek biblioteek
Die Swartland se biblioteekdienste het vanoggend hul betrokkenheid by die naderende nasionale biblioteekweek bekendgestel.
Die Swartland Munisipaliteit (SM) se biblioteekbestuurder, Isabel Young, en haar span het die burgemeester, munisipale bestuurder en ander amptenare asook ‘n groepie kinders van die Land van Kabouters-kleuterskool ontvang.
Young het vertel van die uitdagings wat die streek se biblioteke ook weens die Covid-inperkings ervaar het en dat daar ‘n groot taak wag om die gemeenskappe weer, soos voorheen, terug in die biblioteke te kry.
Die burgemeester, Tijmen van Essen, het almal bedank vir hul werk en bydrae en die kinders aangemoedig om van die biblioteek gebruik te maak.
Na afloop van die verrigtinge is die jong besoekers in drie groepe opgedeel en toe was dit storietyd.
Van Essen het aan dié courant vertel dat hy en sy vrou, Doedtie, as boorlinge van Europa jare gelede hul Afrikaans geleer het deur Afrikaanse boeke van die Malmesbury Biblioteek uit te neem. “Ek het byvoorbeeld onder andere al Konsalik se boeke gelees.”
*Met die viering van Biblioteekweek van 15 tot 19 Maart is dit ook boetevrye week.
Young het almal wat lank uitstaande boeke het, of wat boeke ontdek waarvan hulle al vergeet het, aangemoedig om die boeke terug te bring.
“Bring die boeke terug en ons belofte aan jou is ‘Geen boete – Geen vrae’.”
Vir meer inligting kontak jou plaaslike biblioteek .
*Neem kennis dat alle biblioteke volgens die Covid-19 regulasies oop is vir die publiek.