Besige brandseisoen aan die Weskus

Gedurende die somermaande is daar dikwels ‘n toename in veldbrande en vir die Weskus Brandweer- en Reddingsdienste was dit ‘n besige brandseisoen. Die brandweerdiens, onder die jurisdiksie van die Weskus Distriksmunisipalteit, het tussen November 2020 en Februarie 2021 meer as 90 brande in die streek help blus.

Om die brandweerdiens aan die publiek te verbeter, het die Weskus Distriksmunisipaliteit sy vloot van brandweervoertuie uitgebrei met die toevoeging van twee nuwe vierwiel-aangedrewe bakkies. Hierdie voertuie sal die bestaande vloot by die Clanwilliam- en Vredendal-brandweerstasies aanvul.
 Die Brandweerhoof van die Weskus Distriksmunisipaliteit, Bertus Senekal, het sy dank uitgespreek teenoor die publiek wat tot dusver die brandverbod, wat tot 31 Maart 2021 ingestel is, eerbiedig het.

Tydens dié verbod tydperk mag geen beheerde brande plaasvind nie.
“Selfs individue met brandpermitte sal vervolg word indien hulle nie by die reëls hou nie.
“Dit is uiters belangrik dat ons met die publiek saamwerk om brande te voorkom. Die mense wat die brandverbod eerbiedig, help om die werkslading op die brandweer personeel te verlig, sodat ons op meer kritiese werk kon fokus,” het Senekal gesê.
Die publiek is versoek om wanneer ‘n brand uitbreek, so gou as moontlik die brandweerdiens te kontak by 022 433 8700 of 10177. – (mediaverklaring)

Hier is David Joubert (munisipale bestuurder WDM); Raadsheer Boffie Strydom (onder-Burgemeester van WDM); Bertus Senekal (brandweerhoof Weskus Brandweerdiens); Raadsheer Harold Cleophas (burgemeester van WDM) en Wilhelm Markus (direkteur WDM) tydens die oorhandiging van die voertuie. – Foto verskaf

Leave a Reply

error: Content is protected !!