Swartlander doen op 18 MSc in kwantumrekenaars
Duisende jongmense wat verlede jaar 18 geword het, studeer vanjaar by tersiêre instellings en daar is ook baie uit die Swartland wat hul naskoolse studies begin.
Nóg so ‘n jong Swartlander wat vandeesweek by die Universiteit van Stellenbosch begin het, is die 18-jarige Hjalmar Rall. Maar anders as die ander wat eerstejaars is, begin Rall met sy meestersgraad in kwantumfisika.
Dié oudleerling van die Laerskool Riebeek-Kasteel en die Christelike Privaatskool Malmesbury het pas ‘n onderskeiding behaal vir sy honneursgraad in Fisika aan die Universiteit van Pretoria.
dié courant het gaan inloer op Riebeek-Kasteel waar Rall en sy ouers, Heinrich en Annette, nou weer woon nadat hulle vir 4 jaar in Pretoria was.
Hy was op 14 die jongste student ooit om aan die Universiteit van Pretoria te begin studeer en het elke jaar met ‘n onderskeiding geslaag. dié courant het destyds berig Hjalmar het sy skoolloopbaan by die Christelike Privaatskool op Malmesbury afgeskop en het in graad 3 na die Laerskool Riebeek-Kasteel verskuif. Hy het later tuisonderrig ontvang.
Sy projek vir die honneursgraad het gehandel oor kwantum fynbalans en verstrengeling.
Rall vertel dat hy reeds as deel van sy studies op IBM se oorsese rekenaarstelsel gewerk het.
Die veld waarin hy werk is die wiskunde agter kwantumberekening.
“Ons kan met ‘n kwantumrekenaar twee aparte bewerkings gelyk doen.”
Jy kan eintlik met ‘n ander algoritme vreeslik baie bewerkings gelyk doen teenoor die huidige waar ‘n klomp ná mekaar moet geskied, verduidelik Rall.
Dit gaan dus oor tydbesparing deur optimalisering.
“Jy kan met effense ander algoritmes stappe volg wat dit verskriklik baie vinniger maak.
Hulle het al in ‘n paar uur iets gedoen wat ‘n normale rekenaar 50 jaar sou vat.
Een van die toepassings is ook chemiese simulasie. “Wat verskriklik baie opsies gelyk kan doen.”
Nou het hy ‘n beurs ontvang om op Stellenbosch vir sy MSc.-graad onder prof. Mark Tame in te skryf.
Die onderwerp vir Rall se magister-tesis is die” Grafiekstaat-bronne vir kwantum-netwerkkodering”.
Rall sê normaalweg met kwantumrekenaars skep jy verstrengeling soos jy gaan.
Maar in hierdie geval skep jy soveel en deeglik as moontlik verstrengeling aan die begin.
Deur die verstrengeling dan te vernietig, “kan ons die data manipuleer” en dit is ‘n eenvoudiger proses as jy dit so om doen.
“Wiskunde is ‘n pragtige vak.”
En as hy dan sy MSc-graad verwerf het?
“Wel, dan is die plan om moontlik na Amerika of Duitsland te gaan om ‘n doktorsgraad te verwerf.”
En dan? Wil jy doseer of navorsing doen.
“Wel, beide.”
“Dit is die lekkerste ding op aarde om mense te oortuig dat wiskunde fantasties is.
Of dit waar is of nie. Ek glo vas dit is. Ek moet ander ook net oortuig.
“Wiskunde is ‘n pragtige vak. Dit is uit en uit ‘n taal. Hoe hoër die vlak is waarop jy wiskunde doen, hoe meer raak dit soos ‘n taal.
“Jy skryf ‘n paar simbole neer en ‘n student wat vir jare daarmee gewerk het, kan dit intuïtief verstaan.
“As jy dit eers het, kan jy dit vlot lees.”
Hy vertel dat sy magisterstudies ‘n baie praktiese toepassing het vir kommunikasie tussen kwantumrekenaars oor ‘n netwerk.
Kwantumrekenaars is besonder veilig. Dit is “100% eaves dropper proof.
“Niemand kan op die rekenaars afluister nie en dit dus nie hack nie. Behalwe as hulle die lyne letterlik knip.”
En as Rall nie studeer nie, wat doen hy?
“Ek lees vir ‘n vale. En in hierdie stadium grotendeels net High Fantasy.”