Rata sluit af met Vaslav, Eerstemense
Die mees uitdagende jaar op haas elke terrein van ons bestaan ten spyt, het daar ‘n paar wonderlike dinge met en om ons gebeur.
Een van die heel beste goed wat in die Swartland kon gebeur, is ‘n nuwe teater.
‘n Teater wat met al die regulasies en inperkings steeds sy spreekwoordelike deure kon oopgooi (of oopdwing) en die uitvoerende kunste na die Swartland bring om ook ‘n vlammetjie van hoop te wees vir almal in dié bedryf waar die meeste ratte ook tot stilstand geknars het.
Die geboorte van die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) met Mark Graham-Wilson aan die stuur, het in die moeilikste tyd moontlik gebeur, maar Graham-Wilson het dit maak werk met ‘n somerseisoen van uitstekende produksies; ‘n somerseisoen wat nou einde se kant toe staan met nog twee produksies oor.
Vaslav – 9 en 10 April
Godfrey Johnson is terug. Dié keer met sy eenmanstuk Vaslav, wat in verskeie kategorieë vir Fleur du Cap-toekennings genomineer was.
Vaslav, geskryf deur Karen Jeynes, Lara Bye en Godfrey Johnson, vier die lewe van een van die 20ste eeu se heel bekendste balletdansers, die legendariese Rus Vaslav Nijinsky.
Hy het in ‘n era toe mans net ‘n ondersteunende rol vir vroueballetdansers gespeel het, die wêreld vir manlike balletdansers op visioenêre en waaghalsige wyse oopgebreek.
Nijinsky het meer as ‘n eeu gelede ‘n besonder kort dansloopbaan van nege jaar gehad en in 1919 (op 28) die laaste keer gedans waarna hy vir 30 jaar met geestesgesondheid geworstel en in en uit geestesinrigtings was.
Hy was ‘n baie kreatiewe kunstenaar en ook ‘n baie goeie pianis.
“Mense het gedink ek is mal, ek het net gedink ek leef ten volle.” – Vaslav Nijinksy
Die teks van Vaslav, die kabaret, is gebaseer op Nijinsky se dagboek wat hy later jare in ‘n paar weke in ‘n inrigting in Switserland geskryf het.
Vaslav het die eerste keer geopen in 2014 op die Nasionale Kunstefees.
Johnson lewer ‘n kragtoer met die regie deur die bekroonde Lara Bye.
Met ses jaar se uitverkoopte vertonings is Vaslav ‘n harmonie van dialoog, musiek en beweging. Johnson gebruik die werke van Stravinksy, Rachmaninov, Tsjaikovski, Debussy, Satie en sy eie komposisies – meesterlik verweef.
9 en 10 April – 20:15
Besprekings: www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262
Kaartjieprys: R120
Engels, 65 minute
Eerstemense – 23 en 24 April
Die heel eerste seisoen van Rata eindig op ‘n gepaste wyse met ‘n verhoogstuk uit eie bodem.
Geskryf, opgevoer en onder regie van inwoners van die Riebeekvallei.
Die hoofrol van Eerstemense word vertolk deur woordkunstenaar en akteur Donker Jonker.
Die stuk staan weer onder regie van Mark Graham-Wilson, wat ook saamgewerk het aan Jonker se vorige werke, Kopkamer en Wat as ek ek was.
Uit die pen van Donker Jonker, het Eerstemense in Short Street gedebuteer by Solo Studios 2020.
‘n Fassinerende karakter uit die toekoms (of is dit die verlede?) se tuig stort neer in die Riebeekvallei. Nadat hy vasstel waar hy is, begin sy ondersoek na die topografie en die wesens wat die vallei bewoon.
Verweef met teks van beeldryke poësie en prosa, neem Jonker sy gehoor op ‘n soms konfronterende reis terug in tyd toe die vallei deur die Khoi- en Sanmense bewoon is.
Kleurryk, visueel en oudio-stimulerend in die intiem herskepte omgewing van die amfiteater, soos u dit nog nie voorheen gesien het nie.
(Let op: Die produksie is minder as ‘n halfuur lank en begin vroeër om 19:30 en gee dan genoeg tyd vir aandete.)
23 en 24 April – 19:30
Besprekings: www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262
Kaartjieprys: R80
Afrikaans, 25 minute