Vaslav – ‘n tuimeltreinrit; briljant boeiend
Johan Viljoen
Een van die toetse vir goeie teater is seker wanneer die gehoor eers net so ‘n bietjie tot verhaal wil kom en asem haal ná afloop van ‘n vertoning voor hulle een vir een begin opstaan en die teater verlaat.
Wel, dit is presies wat by Vaslav gebeur. Godfrey Johnson se eenmanvertoning vanaand in die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op Riebeek-Kasteel was fenomenaal.
Hy neem jou op ‘n tuimeltrein-rit van emosies, skisofrenie, dans en die lewe van die manlike danser en die sielswroeginge waardeur die legendariese Vaslav Nijinski moes werk. Hy het ‘n raps meer as ‘n honderd jaar gelede op 28 ophou dans en vir jare in en uit psigiatriese inrigtings met geestesuitdagings geworstel en gewroeg.
Ook met kwessies soos liefde en die mens en voluit lewe.
Dit is geen verassing dat hierdie meesterlike vertoning, geskryf deur Karen Jeynes, Lara Bye en Godfrey Johnson, vir ‘n klompie Fleur du Cap-toekennings genomineer is nie.
Onder regie van die bekroonde Lara Bye is die verhoogstuk gebaseer op die dagboek wat Nijinski by geleentheid in ‘n psigiatriese inrigting geskryf het. Dit neem jou op ‘n eerlike reis saam na die hoogtes en laagtepunte van dié besondere kunstenaar se bestaan en kommentaar op die lewe – die goeie en die “dierlike”.
Nijinski was ook ‘n baie begaafde pianis.
Johnson se vertolking van die rol is briljant.
Vaslav is nog môreaand (10 April) te sien by Rata.
Die vertoning begin om 20:15.
Besprekings: www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262
Kaartjieprys: R120
Engels, 65 minute