Weskusjuwele onder bestemmings vir nuwe safari’s
Promosie
Die Weskus en veral unieke ervarings daar is onder die bestemmings op die splinternuwe bussafari’s wat van vanjaar deur Trio Events en M4 Events saam met kykNET aangebied gaan word.
Op die Weskus sal passasiers op dié bus onder andere juwele soos !Khwa ttu, Blakes Family Wines, Buffelsfontein, die Weskus Nasionale Park in blom en Mykonos besoek.

Marius Opperman van Trio Events sê die idee is om vir passasiers ‘n besondere en unieke ervaring te bied, iets wat nie tans aangebied word nie.
Die konsep onder die titel KykNET Safari sal afskop met vier bussafari’s na die Weskus, Sederberg, Boland en Overberg onderskeidelik.
Die datums is 14 Augustus (Sederberg), 28 Augustus (Overberg), 4 September (Weskus) en 18 September (Boland).
Van die bestemmings op die ander roetes sluit Bushman’s Cave buite Clanwilliam, Franschhoek, Genadendal en Stanford in.

Volgens Opperman kan die konsep later na ander streke elders in die land ook uitgerol word en sal daar ook TV-opnames vir programme en insetsels vir kykNET gemaak word.
Op die bus sal passasiers kan saamkuier met musiek en daar sal deurlopend aan die nodige Covid-regulasies voldoen word ten opsigte van getalle sowel as besoeke aan bestemmings.
Meer inligting vir die besprekings sal binnekort bekendgemaak word.