“Fibre” deesdae ‘n gonswoord – ook in die Swartland
In ‘n era waar verbinding met die wêreld – groot en klein – via internet ‘n groterwordende rol speel, raak juis hierdie deurlopende verbinding en die spoed van die verbinding al belangriker.
Die koms van optiese vesel het die spoed van internetverbinding tot in die huis en tot by jou toestel na ‘n volgende vlak geneem.
“Fibre” het ‘n gonswoord geword – ook in die Swartland. Hier kan inwoners sien hoe daar op sypaadjies en oor strate gewoel word waar diensverskaffers besig om optiese vesel na woonbuurte en huise aan te lê en daar is reeds aansluitings in dorpe soos Yzerfontein en Malmesbury en ander volg.
Die ligpulse wat in optiese vesel gebruik word, beweeg meer as 50 keer vinniger as die elektriese pulse in die ouer tegnologie.

Maar wat is die optiese vesel en hoe werk dit?
‘n Optiese veselkoord bestaan uit ‘n klomp kleiner optiese vesels. Hierdie vesels is baie dun – eintlik heelwat dunner as ‘n mens se haar.
Maar so dun soos die optiese vesel is, bestaan elkeen uit meer as een gedeelte.
Die kern is die binneste deel van die vesel van glas soos silikon waarin die lig beweeg en die bekleding is die hulsel wat om die kern gedraai is.
As lig op die regte manier deur ‘n glasbuis met die regte omhulsel geskyn word, sal dit weens die refraksiekarakter met weerkaatsing voordurend verder bly bons en beweeg.
Lig word deur die vesel gestuur in pulse wat baie vinnig beweeg. Hierdie pulse bevat binêre data – gekodeeerde inligting/taal wat uit kombinasies van slegs twee elemente – ‘n een en ‘n nul – bestaan.
Dus is daar die puls vir die 1 en die afwesigheid van die puls vir die 0. Of aan en af.
Die inligting word in pakkies gegroepeer wat grepe genoem word. Vandaar die konsep megagrepe (megabits). Dit is ‘n miljoen grepe.
Daardie pulse word dan weer op die einde gekodifiseer/vertaal sodat die ligpulse en kombinasies iets word wat op jou toestel verskyn.
Hierdie pulse kan baie ver (ongeveer 100km) beweeg voordat dit kwaliteit begin verloor.
Om die data verder en so vinnig te stuur, word daar versterkers op die lyne gebruik.

Een van die ander voordele van optiese vesel is dat die stuur van data met lig die risiko van elektromagnetiese steuring weens bv. elektriese heinings en ander verwante steurings in die omgewing uitskakel.
Ook is die duursaamheid van optiese vesel beter as koper omdat dit nie so maklik verweer nie.
Dit is verder belangrik om te let op die verskillende tipes eindpuntverbindings wat steeds optiese vesel genoem word, maar nie altyd “ware” optiese vesel is nie.
FTTH – Vesel-na-die-huis
By jou huis of werkplek kom ‘n vesel-na-die-huis-netwerk (FTTH) inderdaad met suiwer vesel sonder koperkabels tot by die modum. Van daar word dit dan na jou toestel versprei met WiFi of ‘n vaste netwerkkabel. Dit is ook die duurste optiese veselverbindings vir die internetdiensverskaffers.
Daar is egter ook ander verbindings wat nie die vesel tot by jou modum bring nie en dit word ook as optiese vesel beskryf, maar is nie al die pad “ware optiese vesel” nie.
Dit sluit in verbindings soos vesel-na-die-gebou-netwerke (FTTB). Daarna word dit dan van ‘n sentrale punt in die gebou versprei via ‘n kopernetwerk tot by modums of via sentrale WiFi.

Dit word dikwels gebruik by woonstelblokke en ook kantoorblokke.
Dan is daar ook nog vesel-na-die-woonbuurt-netwerke en vesel-na-die-straat-netwerke. In hierdie geval word dit dan weer met koper of WiFi na die huise geneem. Hierdie is die mees bekostigbare opsie vir diensverskaffers omdat hulle nie in duur infrastruktuur vir die individuele persele hoef te belê nie.
Die vraag is dikwels: Maar watter spoed het ek nodig?
4mb of 10mb of 20mb en dan is daar die sogenaamde “uncapped” en “unthrottled” en dan is dit aflaaispoed en oplaaispoed…
“Uncapped” beteken dit is onbeperk. Maar onbeperk is en was nie in alle gevalle onbeperk nie. Want as jy ‘n hoë verbruiker is/was, word/was die lyn soms toegedruk ná ‘n sekere perk en dan het jou data baie stadiger deurgedrup.
Dit is waar die “unthrottled” inkom. Daar is geen beperking nie. Dit word ook deur sommige diensverskaffers die “Fair use policy” genoem.
Die verskil tussen oplaai en aflaai is voor die hand liggend. Om te stroom en inligting te soek, behels grotendeels die aflaai van data – data wat na jou toestel vloei. Uiteraard moet in jou soektog ook data uitgestuur word om bv. die vraag daar te stel vir jou soektog.

Maar in die meeste gevalle is die oplaaispoed minder belangrik en is dit werklik onnodig dat jou aflaai- en oplaaispoed dieselfde is.
Daar is egter uitsonderings. As jy ‘n “gamer” is laai jy inderdaad ook baie inligting op. Dan is oplaaispoed belangrik. So ook as jy groot leggers en ook groot foto’s via e-pos of oplaaiprogramme uitstuur of op webwerwe moet laai.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat internetgebruik (in terme van hoeveelheid data) deurlopend toeneem hoe meer funksioneel toestelle soos selfone raak. Ook die stroming van iets soos Showmax, Netflix, DSTV en ander en musiekstroming gebruik redelike hoeveelhede data.
Wanneer daar dan meer as een so ‘n toestel gelyk op dieselfde internetverbinding stroom, is dit soos om tien krane op een lyn gelyk oop te maak. Die druk/spoed raak eenvoudig minder.
‘n Algemene riglyn (volgens die Swartlandse diensverskaffer Cornergate):
10Mbs-lyn (aflaai) is geskik vir
3 tot 4 toestelle in die huis
2 toestelle wat teen hoë definisie (HD) stroom (bv. Netflix of Shomax)
E-pos en algemene internetgeruik
Sosiale media
Musiekstroming
Video/klank-oproepe
Met aanlynspeletjies kan sporadiese vertragings ervaar word en dit is ook nie goed vir 4k videostroming nie
Dit sal ongeveer 70 minute neem om ‘n fliek van 5gb af te laai
20Mbs-lyn (aflaai) is geskik vir
4 tot 5 toestelle in die huis
Tot 4 toestelle wat teen hoë definisie (HD) stroom (bv. Netflix of Shomax)
E-pos en algemene internetgeruik
Sosiale media
Musiekstroming
Video/klank-oproepe
Aanlynspeletjies – tot twee toestelle
1 Toestel wat 4k videostroming doen
Dit sal ongeveer 35 minute neem om ‘n fliek van 5gb af te laai
50Mbs-lyn (aflaai) is geskik vir
5 tot 10 toestelle in die huis
4 en meer toestelle wat teen hoë definisie (HD) stroom (bv. Netflix of Shomax)
E-pos en algemene internetgeruik
Sosiale media
Musiekstroming
Video/klank-oproepe
Aanlynspeletjies – tot twee toestelle
2 Toestelle wat 4k videostroming doen
Dit sal ongeveer 18 minute neem om ‘n fliek van 5gb af te laai