Nuwe winkels in Riebeekvallei gebou
Die grondwerk is reeds gedoen vir ‘n kommersiële ontwikkeling van 1600m² op Riebeek-Wes wat ‘n nuwe Shoprite Usave, drankwinkel, moontlik ‘n apteek en twee ander winkels insluit.
Eienaar/ontwikkelaar Jaco Louw sê die dorp het baie potensiaal en grond op die platteland is nog goedkoop vir ontwikkeling.
Hy het ook al voorheen ander ontwikkelings gedoen waar die Shoprite-groep by hom huur.
Louw vertel hy het ook onlangs op Riviersonderend grond bekom vir ‘n ontwikkeling.
Die perseel op Riebeek-Wes wat teen ‘n koste van meer as R10 miljoen ontwikkel word, is op die hoek van Voortrekkerstraat en Hofstraat geleë en die gebou sal op twee vlakke opgerig word.
Hy hoop om dit nie later nie as die einde van Julie vanjaar te voltooi sodat die Shoprite-groep se winkel teen die einde van Augustus kan begin sake doen.
Die keldervlak met toegang aan die Hofstraatkant bestaan uit ‘n parkeerarea van 400m² met die gebou op die Voortrekkerstraatvlak wat 1200m² sal beslaan.
Die argitek Heinrick Mostert van Axion Architects het bygevoeg dat “die winkel van die ankerhuurder 670m² sal beslaan, met twee groter lynwinkels van ongeveer 200m² elk, twee kleiner lynwinkels van 40m² elk, asook drie kitsbanke, toiletgeriewe en 49 parkeerplekke, waarvan 1 ‘n taxi-parkeerplek is”.
Die parkeerterrein voor die gebou kry toegang vanaf Voortrekkerstraat en het twee uitgange.
‘n Woordvoerder van die Shoprite-groep, Angelique Wagner, het aan dié courant gesê die Wes-Kaap se 66ste Usave-tak maak einde Augustus sy deure op Riebeek-Wes oop.
“Usave Riebeek-Wes is die vierde nuwe Usave-winkel wat sedert Desember 2020 in die Boland oopmaak en volg kort op die hakke van Usave Avian Park (Worcester), Usave Nduli (Ceres) en Usave Op die Berg (Ceres).
“Die klein-formaat Usave-winkels bied ongeëwenaarde waarde vir geld met ‘n goeie gehalte reeks basiese voedsel teen die laagste moontlike pryse, sowel as maklike toegang tot ‘n reeks finansiële dienste by die Money Market-toonbank. Dit sluit die betaling van munisipale rekeninge, aanvulling van data, lugtyd of elektrisiteit en maklike en bekostigbare geldoorplasings in.”