Onvergeetlik, sê ambassadeur oor Riebeekvallei
Norio Maruyama, Japan se ambassadeur in Suid-Afrika, het die Swartland vandeesweek besoek en dit as ‘n “onvergeetlike dag” beskryf.
Maruyama, wat die afgelope paar jaar as dié oosterse land se ambassadeur in Pretoria gestasioneer is, het bygevoeg dat sy eerste besoek hier sy verwagtinge oortref het.
Hy is vergesel van sy private Michelin-sjef, Jun Suzuki, en dié se vrou Mutsumi.
Maruyama het die Riebeekvallei as pragtig beskryf. “Dít, saam met die verskeidenheid ervarings en aktiwiteite, die hartlike verwelkoming deur die plaaslike mense, die waarde van tradisies en die ambisieuse en talentvolle jongmense, het my beïndruk.”
Die dag se program het wyn- en olyfolieproeë en ‘n middagetekuier ingesluit. Daar was ook ‘n besoek aan die Royal Hotel en die Royal Arts Town-amfiteater asook The Gallery in Hoofstraat.
Maruyama het tydens die wynproeë met Fram, Intellego en Allesverloren se wyne vertel dat hy wel met dié wyne bekend is. Die olyfolieproe by Het Vlock Casteel was ‘n eerste vir Maruyama.
By die middagete met gasheer Mike Gordon-Turner en sjef Jaco Fourie van The Lost Crocodile Cooking School het Ryan Mostert nog plaaslike wyne met die spesiale disse voorgesit.
Die spyskaart het boerewors, gerookte snoek, ingelegde spekboom, appelliefies, Hantamlam, organiese kruisskyf en Kaapse Brandewynpoeding – als met ‘n spesiale “flair” – ingesluit.
“My innige waardering aan Ann (Heyns, gasvrou vir die dag), vir alles wat u vir ons gedoen het.
“Dit was inderdaad ‘n mylpaalervaring tydens ons verblyf tot dusver in Suid-Afrika.
“Spesiale dank ook aan Shawn (Hewitt van Riebeek Valley Tours) wat ons so vriendelik bygestaan het om ons besoek onvergeetlik te maak.”
“Ek sal vir my konsul in Kaapstad sê om u pragtige dorp so gou moontlik te besoek sodat ons die volgende stap kan neem om die vriendskapsbande tussen Riebeek-Kasteel en Japan te verdiep.”