Arts Town Riebeek ‘goes national’
Arts Town Riebeek Valley is going national.
Só het teaterdirekteur van die Royal Arts Town Amfiteater, Mark Graham-Wilson, vanoggend gesê toe hy die nuus aan die digters en teatergangers by die maandelikse Poetry Jam by dié teater gebreek het.
Graham-Wilson het verlede jaar met ander rolspelers hande gevat en baanbrekerswerk vir die uitvoerende kunste gedoen om te midde van verlammende Covid 19-inperkings dié nuwe opelugteater te open. Nou is die verhoogstuk van Clare Stopforth waarmee die teater verlede jaar geopen is, Covid Moons, genooi na die nasionale kuunstefees aanstaande maand in Makhanda (Grahamstad).
Die kunstefees van 8 tot 18 Julie vier vanjaar sy 48ste bestaansjaar en sal op 3 vlakke gehou word.
Daar is ‘n fees in die kleine met klein gehore, ‘n aanlynfees asook ‘n klompie vertonings wat van 17 Junie tot 4 Julie in ‘n paar verskillende stede soos Kaapstad, Johannesburg, Durban en ander gehou sal word onder die vaandel van Standard Bank Presents.
*Digters het vanoggend by die amfiteater agter die Royal Hotel met Kasteelberg en herfswingerde as agtergrond weer die geleentheid gekry om van hul woordkunswerke voor te hou.