Weskus DM spog met 10/10
Die Weskus Distriksmunisipaliteit (WKDM) se 10de agtereenvolgende skoon oudit maak hom nou die enigste munisipaliteit in Suid-Afrika wat dié prestasie kon behaal.
Midde uitdagende tye is plaaslike owerhede “verplig om innoverende en doeltreffender metodes te gebruik om dienste aan gemeenskappe te blylewer,” het dié owerheid met sy hoofkantoor op Moorreesburg in ‘n verklaring gesê.
“Hoewel die uitvoering van hul mandaat die kernfokus bly, moet owerhede aan spesifieke standaarde voldoen en die versekering gee dat die reëls en regulasies, soos uiteengesit deur die ouditeur-generaal, nagekom word.”
Burgemeester Harold Cleophas sê: “As uitvoerende burgemeester is ek baie trots om deel te wees van hierdie munisipaliteit.
“Hierdie prestasie illustreer die munisipaliteit se vermoë om aan die vereistes te voldoen, terwyl hy terselfdertyd sy mandate nakom.
“My opregte dank aan al die personeel en raadslede vir hul toewyding en harde werk.
“Selfs in hierdie uiters moeilike tydperk, toe beleide en bedrywighede ernstig deur COVID-19 geraak is, het die distriksmunisipaliteit voortgegaan om dienste van ‘n hoë standaard binne die wetgewende raamwerk te lewer,” het hy bygevoeg.
Mede-Swartlander en provinsiale minister belas met plaaslike regering, Anton Bredell, het die WKDM geloof.
“Tien jaar van uitstekende regering en bestuur is ‘n uitstekende prestasie. Die Weskus-distriksmunisipaliteit het ‘n merkwaardige rekord gestel. Tien jaar van skoon oudits toon die munisipaliteit se verbintenis om die beste dienste aan sy gemeenskappe te lewer.
“Die raad en sy leiers verstaan dat die verantwoordelikheid van die belastingbetaler se geld ‘n kritieke deel van die proses is om ‘n beter lewe aan almal te bied.
“Baie geluk en mag die skoon oudits voortduur,” het Bredell gesê.