Agri/BusinessLatest

Historiese ‘ingevoerde’ juweel in die mark

Een van die Swartland en Malmesbury se mees geskiedkundige huise wat in die laat 1800’s gebou is, die Viktoriaanse Von Elgg-huis, is nou in die mark.
Dié eiendom in Faurestraat met die enigste oorblywende Viktoriaanse dubbelverdieping herehuis in Malmesbury is in die mark vir R15,95 miljoen.

Die grond is volgens sommige rekords in 1876 deur die NG Kerk aan ene E.S. Ford verkoop waarna die huis vir of deur Edith Henrietta Kotze gebou is vir ongeveer £7 000 – glo ‘n uitsonderlike hoë bedrag in daardie tyd.
Volgens oorlewering het Kotze dié laat-Victoriaanse huis gebou as ‘n presiese replika van ‘n skets wat hul uit Engeland saamgebring het.

Die gebrandskilderde ruite is een van karaktereienskappe wat gemeld is in die verslag toe die Von Elgg-huis as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Elkeen van die vensters is deur houthortjies van Amerikaanse grein of kiaat beskerm. Die trap (regs) is ook van Amerikaanse greinhout, met Burmese kiaat vir die relings.

Rekords dui ook aan dat die huis, wat vandag ook by talle mense as Thiart-huis bekend staan, uit ‘n katalogus gebou is en die meeste boumateriaal, behalwe vir die sandsteen van plaaslike oorsprong, so uit Engeland ingevoer is. Dit sluit onder andere gepersde staalplafonne en muurbedekkings in. Daar is ook ses versierde marmerkaggels.

Die bekende Baron Frederick Fortunatus Werdmuller (Von Elgg) uit Zurich het die huis in 1907 gekoop en vir baie jare daar gewoon.
Van die rekords dui aan dat die huis toe vir etlike jare leeg gestaan het voor dit in 1953 deur Gerrie en Anita Thiart gekoop is en só van sloping gered is.
Dit is in 1983 as nasionale monument (deesdae bekend as provinsiale erfenisterrein) verklaar en maak ook deel uit van die Malmesbury Historiese roete.

Die erker (komvenster) is ‘n algemene kenmerk van die Viktoriaanse styl. Die vensters toon ‘n sterk Art Nouveau-invloed, ‘n styl wat vaardig was van 1890 tot ongeveer 1910. Let ook op die pragtig-versierde plafonne – een van drie in die huis.

In die boek ‘The Old Buildings of the Cape’ (Dr. Hans Fransen, 2004; derde uitgawe), word dit as een van “slegs 350 argitektoniese monumente in die Kaapprovinsie van Suid-Afrika” bestempel.

Die kultuurhistorikus dr. Mathilda Burden het die gietysterwerk aan die balkonrelings en die kapitele van die suile vroeër as “uiters dekoratief en sprekend van die laat 1890’s” beskryf. Die veranda bo-op die balkon is ‘n voorbeeld van die konvekse veranda (die sogenaamde “bullnose”), wat in sommige plattelandse dorpe gebou is.

Die Thiarts het vir meer as 40 jaar in die hius gewoon en dit toe in 1997 aan die Nederlanders Joop en Joke Pinckaers verkoop. Laasgenoemde het die land besoek vir die Waarheids- en Versoeningskommissie se werksaamhede.
Hy het dit later aan die huidige eienaar verkoop.

‘n Skildery deur die bekende Sandy Esau van die Pinckaers-egpaar se troudag in 1997, toe hul huwelik op die stoep van die Von Elgg-huis deur aartsbiskop Desmond Tutu voltrek is.

Werdmuller was destyds prokureur en burgemeester op die dorp. Daar is vandag ook ‘n Werdmullerstraat.
Sy broer, dr. Valentine Werdmuller, het hom ook later jare op die dorp gevestig. Volgens rekords hetdr. Werdmuller gewoon op die hoek van Kerk- en Rainierstraat waar die kantore van CK Rumboll en vennote is.
*Die foto’s binne-in die berig is reeds ‘n paar jaar gelede deur dié courant geneem.
*Die historiese inligting is afkomstig uit ‘n paar bronne en kan uiteraard nie almal geverifieer word nie.

Inligting soos geadverteer:
4-slaapkamerhuis
R15,950 miljoen
Dit sluit onder andere in:
Hoofslaapkamer met en suite-badkamer, lugversorger, gordynrelings, gordyne, kaggel, ingeboude kaste, koningbed en houtvloere.
Slaapkamer 2 met kaggel, ingeboude kaste, koningbed en houtvloere
Slaapkamer 3 met kaggel, ingeboude kaste, koningbed en houtvloere
Slaapkamer 4 met kaggel, ingeboude kaste, koningbed en houtvloere
Badkamer 1 met wasbak, bad, stort en toilet
Badkamer 2 met wasbak, bad, stort en toilet
Daar is onder andere ook 2 motorhuise, ‘n woonstel, ’n tuisteater-kamer, binnebraai-area en vele meer.
Erfgrootte: 2 588 m²
Gebou-grootte: 682 m²
*Vir meer inligting en onlangse foto’s: https://www.pamgolding.co.za/property-details/4-bedroom-house-for-sale-bergzicht/1ms1536143

Leave a Reply

error: Content is protected !!