Agri/BusinessLatest

Dit ‘gaan goed met vleisboere’, pryse kan hoër bly

Dit gaan tans baie goed met die rooivleisprodusente en die vooruitsig is dat pryse nie in die toekoms drasties sal daal nie.
Só gesels Swartlander John Dürr.
dié courant het Dürr, wat al dekades in die bedryf is en betrokke is by die Rooivleisprodusente-organisasie en georganiseerde landbou, uitgevra oor die stand van die bedryf.

“Dit gaan met die vleisboere goed. Dit gaan regtig goed met die vleisboere.
“Die rooivleisbedryf is tans op een van die beste plekke ooit.
“Pryse wissel op die korttermyn met spesiale aanbiedinge vir maandeindes en ook met die feestye van geloofsgroepe, maar op die langer termyn lyk dit nie of dit binnekort sal daal nie.”
“Gewoonlik van einde Augustus af word die vleis meer volop en dan sal dit miskien hier rond tydelik effe daal, maar in die res van die land nie noodwenig nie.
“Die vooruitsig is dat pryse gaan hoër bly en die verbruikers sal dit maar so moet aanvaar.
“Die droogte het die veekuddes – skaap en bees baie uitgedun.

John Dürr

“Terwyl dit goed kom reën het in die beesweigebiede, het dit nog nie so gereën in die skaapweigebiede nie.
“Dit vat enigiets van 3 tot 5 jaar om ‘n beeskudde weer op te bou, maar ‘n skaapkudde kan jy amper half oornag weer terugkry – terugkoop of aanteel. Dit is gouer, omdat skaap meerlinge gee wat jy nie by bees het nie.
“Met die reëns het die beessektor gouer weer op sy produksiegetalle gekom kilogramgewys, sukkel die skaap bedryf nog om daarby te kom.
“Veral in die ekstensiewe skaapgebiede waar dit mos nou nog nie gereën het nie – dit is van die Weskus om tot in die Oos-Kaap.”

Prys word grotendeels deur vraag en aanbod bepaal. As die aanbod laag is, styg pryse.
“Die nasionale en provinsiale jaar-op-jaar-slagsyfers vir beide bees en skaap het in die eerste ses maande (November tot April) van die huidige metingsiklus gedaal.
“Nasionaal het die beesslagsyfer 1,3% gedaal en in die Wes-Kaap met 4,8%.
“Skaapslagtings was heelwat minder met 8,8% laer op nasionale vlak en 13,3% laer in die Wes-Kaap.”
Hierdie laer aanbod beïnvloed dan die vleispryse.

Dürr voeg by dat hulle skat dat die syfers vir beesslagtings ongeveer 95% akkuraat is omdat verreweg die meeste beeste deur formele slagpale geslag word.
By skaap is die geskatte informele sektor egter 50% waarvan daar nie rekord is nie.
Ongeveer 70% van beeste word uit voerkrale geslag waar 75% van skape van die veld af kom.
“Omdat daar steeds droogte is in sekere dele van die land, spoel dit oor na die pryse ook in die ander dele van die land.”
Hy maak ook melding van die uitvoermark wat ontwikkel word en die opwaartse invloed daarvan op die prys van rooivleis.
Toe die bek-en-klouseer in 2019 die uitvoer van beesvleis verhoed het, het pryse met ongeveer R10 per kilogram gedaal en het produsente by die R1500 minder per bees ontvang.
Uitvoere kan beslis in die toekoms ook ‘n baie prominente rol in die prys van skaapvleis speel. “Al word slegs 1% van produksie uitgevoer.
“Die styging in die prys van stoorlammers kan direk gekoppel word aan die uitvoer van lewendige lammers.”
Dürr sê ‘n ander interessante statistiek is dat die Wes-Kaap volgens amptelike syfers slegs 11% van die land se skape het, maar dat 25% van die nasionale slagtings die afgelope jaar hier plaasgevind het.

Abattoirs soos Cartol, Delico, Hessequa, Robertson en Tomis gaan haal dus die skaap in ander provinsies.
Die samestelling van die verbruikers in die Kaap het verander en dit gaan waarskynlik so bly.
Daar word gesê: Die verbruikers van lamsvleis skuif Kaap toe.”
Oor produksie sê Dürr dat 20% van die Wes-Kaap se 11% uit die droogtegeteisterde Noord-Kaap en Sentraal-Karoo kom, nog 20% uit die Koeberg/Swartland-Weskus-area en 60% uit die Suid-Kaap.
Naas die droogte, sit die droogtegeteisterde gebiede ook met 40% verliese weens probleemdiere soos jakkals en rooikat en is veediefstal ook deel van die pakkie.

Daar is nou proefnemings om ook na meer intensiewe lampraktyke te kyk en die ooie veiliger nader aan die huis te laat lam teen die probleemdierkwessie.
“In die saaigebiede is die tendens intensiewe lamstelsels en intensiewe skaapboerstelsels. Dit speel ongesiens ‘n belangrike rol omdat dit die produksie per hektaar laat styg.”
Hy sê dit word met groot sukses gebruik en dit sal voortaan net nog verder ontwikkel word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!