Chait ‘gaan Schoonspruit restoureer soos van ouds’
‘n Era in die geskiedenis van Malmesbury is onlangs ná baie dekades afgesluit toe die laaste nasaat van PG (Petrus Gerhardus) Nelson, voormalige burgemeester en sakeman, die deur agter hom op die plaas Schoonspruit toegetrek het.
Jean Nelson en sy gesin het die laaste jare in die ou Schoonspruit-opstal, wat jare gelede deur sy oupagrootjie gekoop is, gewoon.
Daar is verskeie weergawes van die tydlyn, maar die huis het ‘n ryke geskiedenis.
Die huis, in sommige kringe ook bekend as “The Beacon”, was ook bekend vir sy pragtige tuin. So ook die Vergenoeg-huis net langsaan.
Die treinspoor loop onder dié twee huise verby en die trein het dikwels spesiaal gestop sodat passasiers deur die tuine kon wandel en piekniek hou.
Trevor Rinkwest, oudhedeversamelaar en geskiedeniskenner van die streek, vertel aan dié courant dat daar ook baie spesiale gaste onder dié besoekers was.
In 1947 het die destydse Britse Koning George en sy vrou Elizabeth (later die Koninginmoeder) en hul twee dogters, prinsesse Elizabeth (nou Koningin) en Margaret, vir maande per trein deur Suider-Afrika gereis. Hulle het ook by Schoonspruit aangedoen.
Vergenoeg se huis, wat nog in ‘n goeie toestand is, is ouer as dié van Schoonspruit.
Daar is ook ‘n kleiner huis wat volgens bronne as “Three Sisters” bekend was.
Dié twee groot huise het aan sakevennote Rood en Penberthy behoort, voordat Nelson die Schoonspruit-opstal gekoop het.
Hy was die leier van die ou Verenigde Party in die streek. Die storie lui dat die eerste minister, nóg ‘n Swartlander Jan Smuts, Nelson ‘n pos in sy kabinet aangebied het, maar Nelson het dit van die hand gewys.
Nelson (1875-1956) was ‘n suksesvolle veeboer en later ook ‘n algemene handelaar. Sy winkel was op die perseel waar Pep Stores tans is. Nou die h/v Piet Retief- en Hillstraat.
Die Schoonspruit-opstal is deel van die grond wat ‘n klompie jare deur ontwikkelaar Geoff Chait gekoop is vir die groot beplande ontwikkeling tot by Abbotsdale asook aan die westekant van die N7.
Vir erfenisliefhebbers het Chait goeie nuus. Hy het vandeesweek aan dié courant gesê hy gaan die Schoonspruit-opstal “ten volle restoureer en ook die tuin herstel na hoe dit oorspronklik was.
“Al sal dit nie noodwendig presies dieselfde plante wees nie, sal die tuin presies lyk soos die oorspronklike,” het hy begevoeg.
Chait sê hy het erfeniskenner Graham Jacobs asook CK Rumboll & vennote aangestel om die projek te bestuur.
Gepols oor hoe lank dit sal duur, het hy gesê dit is moelik om te sê en kan ‘n lang proses wees.
*Toe Jean Nelson onlangs verhuis het, was sy kinders die vyfde geslag Nelsons op die plaas.
PG Nelson se ma was ‘n nooi Louw, vertel Rinkwest, en bevestig hy het familiebande omdat een van sy voorouers ook ‘n nooi Louw was.
PG Nelson en sy vrou Wilhelmina Johanna Dorothea Coetzee (1878-1967) se een seun was Luther (1903-1991).
Hy was getroud met Annaleen Francina Smuts (1913-1993).
Hulle een seun was Jannie (Jan Smuts Nelson), wat met een van die Du Bois-tweelingsusters, Cecile Cornelia, getroud is.
Cecile (78) woon deesdae in die Strand.
Hulle het drie kinders gehad, Conrad wat op 18 sy lewe tydens militêre diensplig verloor het, Jean en daar is ook ‘n dogter Anneline.