Man en vrou Birkett bo in Berg ‘21
Die 60ste Bergrivier Kanomarathon is dié naweek te midde van talle uitdagings beslis.
Nadat die 60 jaar nie verlede jaar gevier kon word nie weens die Covid-pandemie, moes dit vanjaar ook van Julie na Augustus uitgestel word.
Weens die inperkings was daar vanjaar ook nie die gebruiklike aantal toeskouers langs die roete nie en ondersteuningspanne is beperk tot een per roeier.
Dit als het egter nie ‘n demper op die roei-aksie en drama geplaas nie.
Etlike vorige kampioene het deelgeneem en dit was vanuit die staanspoor duidelik dat van die voorste roeiers mekaar harde bene sou laat kou.
Drie van die top-mansroeiers en voormalige kampioene, Hank McGregor, Andy Birkett en Hamish Lovemore, het van die eerste dag die leiding geneem en die voorpunt van vanjaar se Berg dikteer.
Die eerste skof is vanjaar ook vir die eerste keer verkort en die eindpunt was by Delsma.
McGregor, wat die Berg al ‘n allemintige 11 keer gewen het en een keer tweede was, het dié verkorte eerste skof ingepalm in ‘n tyd van 3:36:30.91, gevolg deur Birkett (3:36:31.64) en Lovemore (3:36:35.80).
Birkett en Lovemore (2019) het self al voorheen die Berg gewen in onderskeidelik 2014 (2de in 2015) en 2019.
In die vroue-afdeling was Nikki Birkett eerste in vanjaar se eerste skof in ‘n tyd van 4:11:18.99.
In die tweede skof, tradisioneel dikwels die deurslaggewende skof, het Andy Birkett in die mansafdeling ‘n voorsprong van twee minute opgebou en die skof gewen in 3:58:43.19 gevolg deur McGregor (4:00:51.72) en Lovemore (4:03:45.21).
Birkett, ook veelmalige Dusi-kampioen, het enduit aan dié voorsprong geklou. Al het McGregor beide die derde en vierde skof kort voor Birkett geëindig, was die voorsprong genoeg vir Birkett se tweede sege in die moordende Bergrivier-marathon oor 240km.
Hy het die afstand in ‘n totale tyd van 17:27:24.87 afgelê, met McGregor tweede (17:29:30.81) en Lovemore derde (17:40:05.37).
In ‘n geskiedkundige oomblik het Nikki Birkett die vroue-afdeling gewen om dit die eerste keer te maak wat ‘n man en vrou die Berg saam wen.
Haar wentyd was 20:40:54.26, met Jordan Peek tweede (20:56:38.91) en Beanca Beavitt derde (21:23:45.63).
Bartho Visser van Hermon het 11de geëindig (3de in die o.23-afdeling) in ‘n tyd van 18:47:58.42.
Sy belangstelling in roei het op tienjarige ouderdom begin toe ‘n familievriend hom aangeraai het om na die Paarl Kanoklub te gaan.
Op daardie ouderdom kon hy nog nie aan rivierwedvaarte deelneem nie en moes wag tot hy 14 jaar oud was.
Weskusser Gert Coetzee (gebore en getoë op Aurora) het in die Grootmeester-afdeling meegeding. Hy het vir ‘n klompie jare nie deelgeneem nie tot die gogga weer in 2011 gebyt het. Nou het hy sy 20ste Berg in ‘n tyd van 32:22:04.23 voltooi.
Foto’s beskikbaar by:
60th Berg River Canoe Marathon 2021 Day 1 @ Hermon