Poetry Jam vier 1 jaar
Die maandelikse voorlees van gedigte by die Royal Arts Town-amfiteater, wat nou reeds ‘n instelling by dié nuwe teater geword het, het gister sy 1ste verjaarsdag gevier.
Digters en woordkunsliefhebbers het weer van hul werke en dié van ander woordkunstenaars op die planke gebring. Al is die sessie weens die koeler weer na die nabygeleë oop sitkamer verskuif, was daar weer uitmuntende werke.
Een van die Swartland se opkomende digters, Bradley Arendse van Malmesbury, het ook sy buiging op die Poetry Jam-vehoog gemaak met onder meer ‘n roerende gedig oor die dood van sy babaseun.
Die ander deelnemers was Bas van Kampen, Nick Vaders, Sophie Elizabeth Fraser, Tamzin Lovell Miller, Errol Cunnama, Caren Kearley, Georick Fon Veltdør (ook programleier) en Phillip Swiegers.