Agri/BusinessLatest

Wees toerismebaanbrekers – Cleary-Le Grange

Ons moet baanbrekers wees vir toerisme in die era waarin ons leef.
Só het Sean Cleary-Le Grange wat onlangs op hul jaarvergadering as voorsitter van Riebeekvallei Toerisme verkies is, gesê.

“Dit is ‘n tyd waarin ons uit die spreekwoordelike boks moet dink. Daarvoor moet ons daarna streef om almal betrokke te kry – van elke eienaar van ‘n toerisme- en gasvryheidinstelling en diens, ander plaaslike sakelui ook klein en medium ondernemings tot elke inwoner.
“Uiteindelik beïnvloed dit wat ons by Riebeekvallei Toerisme doen, die hele vallei en omgekeerd,” het hy bygevoeg.
Die nuwe toerismebestuur het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om by die organisasie aan te sluit.

Die nuwe bestuur, van links, is : Sean Cleary-Le Grange, Zani Brits, Ann Heyns, Nella Slabber, Max Dludla en Caren Kearley. Zakkie Bester was afwesig.

“Ons begin op meer as een manier nuut!
“Die verkiesing van ‘n nuwe komitee tesame met ongekende voorsorgmaatreëls wat bewegingsvryheid beperk, bied opwindende geleenthede om die toekoms van ontspanningstoerisme in die Wes-Kaap te inspireer, te innoveer en te vorm.
“Die Riebeekvallei is ideaal geleë binne maklike bereik van Kaapstad en omgewing en het sy gewildheid te danke aan ‘n magdom opsies vir dagritte, naweke en wegbreekplekke gedurende die week.

“Die bevordering van die vallei as ‘n uitstekende bestemming vir vakansie- en sakereisigers is ‘n verantwoordelikheid wat op die skouers van elke inwoner rus.
“Dit is ons dorp – bekend vir die vriendelike ontvangs deur inwoners, die eklektiese mengsel van loopbane, ouderdomme, invloede, lewenstyle; pragtige skoonheid saam met fynproewerskos, wyne en olywe.

“Omdat dit ons dorp is, is elke inwoner ‘n beïnvloeder en daarom ‘n belangrike rolspeler. “Ons familie, vriende, kollegas en nuwe kennisse besoek ons, kuier baie lekker en beny ons vir die rustigheid en skoonheid wat ons omring.
“Dit is die doeltreffendste manier om ons dorp te bemark: Oorvertelling,” het Cleary-Le Grange gesê.
“Ons vertrou op u – ons lede en vriende – om ons te ondersteun in die posisionering van die Riebeekvallei as die mees inspirerende en innoverende dorp in die Wes-Kaap en om dit verder te ontwikkel as ‘n leefstylbestemming.
“Sluit by ons aan om ons welvaart, veiligheid, netheid en doelgerigte lewe vir al ons gemeenskappe te verhoog.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!