Agri/BusinessLatest

Pulpit Rock Swartland se 2021 Groot Kampioen

Op vanjaar se Swartland Jongwynskou is die Absa Groot Kampioentrofee, bekend in die streek se wynkringe as “Oortjies”, gister by die Allesverloren Onthaalsentrum deur Pulpit Rock opgeraap.
Die wenwyn, ‘n ongehoute Merlot, het dié kelder ook die eerste houer gemaak van die Porex SA Kampioen Merlot-trofee, een van die nuwe trofeë op die streek se jongwynskou.

Die voorsitter van die Swartland Jongwynskou, Pieter-Niel Rossouw, het gesê hul het vanjaar die trofeetafel uitgebrei met trofeë vir meer kultivars om aan meer deelnemers erkenning te gee en ook om die streekskou in lyn te bring met dié trofeë wat by die SA Nasionale Jongwynskou-kompetisie gewen kan word. Dit beteken ook dat ‘n klompie van die ouer trofeë nuwe name gekry het.
Die ander twee nuwe trofeë wat vanjaar vir die eerste keer ‘n staanplek kon kry, is die Vinventions Kampioen Sauvignon Blanc en die Wine Machinery Kampioen Cabernet Sauvignon-trofeë is.
Rossouw het die nege deelnemende kelders, waaronder twee wat vir die eerste keer deelgeneem het, vir hul deelname en bydrae tot die streek bedank.
Hy het het ook hulde gebring aan drie groot geeste wat die Swartland en wynbedryf die afgelope jaar verloor het – Dumpie Bayly, Claude Uren en Van der Byl Brink.

Pulpit Rock het ook die volgende trofeë ingepalm:
Malmesbury Toyota Kampioen Droë Wit Versnit (Sauvignon Blanc/Chenin Blanc/Nouvelle)
Enartis Kampioen Ander Wit Kultivar (Nouvelle)
Nexus Kampioen Droë Rooi Versnit (Cabernet Sauvignon/Merlot/Shiraz)
Kobus Basson Kampioen Pinotage (Pinotage – ongehout)
Séan Nieuwoudt Cinsaut (Cinsaut – ongehout)

Die ander kelder wat ook ‘n spreekwoordelike bakkievrag trofeë verower het, is Darling Cellars.
Dié kelder se trofee-oes lyk só:
CJP Chemicals Kampioen Chenin Blanc
Vinventions Kampioen Sauvignon Blanc
Enartis Kampioen Ander Wit Kultivar (Sémillon)
Kaap Agri Kampioen Natuurlike Soetwyn (Sauvignon Blanc/Grenache Noir)
Kotzé Steyn Kampioen Shiraz
Wine Machinery Kampioen Cabernet Sauvignon
Vinochem-trofee vir die vyf beste inskrywings

Nog twee kelders wat bekers tot hul trofeekas kon toevoeg, is Allesverloren met die SAIL Kampioen Versterkte Wyn (Rooi Muskadel Jerepigo) en Babylon’s Peak met die Santam Landbou Kampioen Ander Rooi Kultivar (Carignan).
Daar word jaarliks een Nasionale Jongwynskou met een proe vir al die wyne (vanjaar 1162 inskrywings) gehou. Dié skou is die oudste van sy soort in die wêreld. Die deelnemers uit elke streek ding ook met daardie punte wat toegeken is, in streekverband teen mekaar mee. Dit is dan in Swartland se geval (Darling en Swartland Wyn van Oorsprong-areas) as die Swartland Jongwynskou bekend. Die streekskompetisie word deur die Swartland Wyn- & Olyfroete gekoördineer. Die nasionale wenners sal op 30 Augustus bekend wees.

Die Swartlandse deelnemers het vanjaar ‘n goeie oes van 8 goue, 52 silwer en 24 brons toekennings ingepalm.
Daarby was daar 32 klaswenners – aangewys uit die goue en silwer toekennings.
Luidens ‘n persverklaring word die jongwynskou beskou as ‘n tegniese kompetisie en platform wat aan wingerdboukundiges en wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen dié van hul eweknieë te meet en ook die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ‘n groter platform te toets. Die suksesse van nuwe tegnieke in die wingerd sowel as in die kelder word ook op dié manier gemeet.

“Die wynbedryf is die afgelope tyd deur diep waters, eers ‘n droogte en toe ‘n wêreldwye pandemie wat elkeen sy bepaalde uitdagings meegebring het.
“Ten spyte van moeilike omstandighede wat daagliks oorbrug moet word, slaag die produsente steeds jaar na jaar daarin om spogwyne in die Swartland te produseeer.” sê Rossouw.
Hy skryf dit toe aan die diversiteit van die streek wat strek van die Paardeberg in die suide, Riebeekvallei in die ooste, Darling in die weste en die voet van Piekenierskloof in die noorde.
Rossouw voeg by dat die Swartland ‘n gewilde wynproduserende streek is en “betree al hoe meer jong wingerdboukundiges en wynmakers die Swartland op soek na daardie spesiale wingerd en uiteindelik daardie spesiale wyn.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!