EntertainmentLatest

First Fridays – van skaapstertjies, kuns tot wyn en olywe

Met die aanbreek van die nuwe lenteseisoen vandeesweek, vind die eerste First Fridays-naweek ná die winter met ‘n hele klompie nuwe toevoegings van Vrydag tot Sondag plaas.
Die geleentheid op Riebeek-Kasteel wat aanvanklik net op die eerste Vrydag van die maand plaasgevind het, het gou só gewild geraak dat dit tot elke eerste naweek van die maand uitgebrei het.

Nou het dit verder uitgebrei tot samewerking met die Swartland Wyn- en Olyfroete en van dié roete se lede elders in die Swartland wat ook spesiale geleenthede dié naweek aanbied.

Naas die gebruiklike feestelike Vrydagaand met winkels op Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes wat tot laat (17:00-20:00) sake doen en met spesiale aanbiedinge ook by restaurante, is daar Vrydagaand ook ‘n Wyn- en Pizza-aand in die Paardeberg by AA Badenhorst Wyne op Kalmoesfontein.
Die koste beloop R450 per paar en sluit wyn, pizza en nagereg in (18:00-20:00).
Pizza kan ook bestel word sonder die wyn.

Daar is Vrydagaand ook musiek- en sangoptredes op Riebeek-Kasteel. Maritza tree van 17:00 tot 20:30 by Jolly Olive op en Akimbo is van 17:30 tot 20:30 by The Alchemist.

Saterdagoggend (09:00-13:00) vind die gewilde kontreimark op die plein in Riebeek-Kasteel plaas.
By Org de Rac naby Piketberg is daar ook ‘n spesiale musiek- en wyndag met Emile Swiegers (10:00-17:00).

Die Olive Boutique op Riebeek-Kasteel bied ‘n geleentheid aan met ‘n paring van olywe, olyfolie, wyn, jenewer en oestersampioene (10:00-14:00).
Op Malmesbury hou die Hofstraatkelder met hul Renosterboswyne ‘n unieke Rooiwyn- en Skaapstertjieproe van 11:00-15:00 en in die Paardeberg by Lammershoek vind dié kelder se gewilde braaidag ook Saterdag van 12:00 tot 15:00 plaas.

Die naweek word Sondag afgesluit met die geleentheid om jou eie wynversnit te maak by die Riebeek Valley Wine Co se emporium in Short Street, ‘n besoek aan die groepskunsuitstalling BUD by RK Contemporary op Riebeek-Kasteel (opening 11:30-12:30) en die gewilde maandelikse poësie-byeenkoms (Poetry Jam) in die Royal Arts Town-amfiteater by die Royal Hotel (12:30-13:30).

Leave a Reply

error: Content is protected !!