Proteas bring lentevreugde in Leukes-tuin
Hy is lief vir tuinmaak en het beslis die spreekwoordelike groen vingers.
Toe Derick Leukes van Malmesbury 10 jaar gelede dié proteaplantjies by Malmesbury Kwekery gekoop het, moes hy seker maak hy doen baie goeie grondvoorbereiding in sy voortuin.
“Proteas groei mos in die natuur in arm en suur sanderige grond wat goed gedreineer is met min water – baie anders as ons tuingrond.”
Hy het gate gemaak en dennenaalde en bas en ‘n klompie ander goed met die grond gemeng voor hy die proteas geplant het. “Toe hulle eers gevat het, het dit makliker gegaan,” vertel hy.
Proteas is, bevestig Leukes, maar stadige groeiers. So geduld is nodig.
Vandag pluk hy trots die vrugte van sy handewerk.
‘n Fynbostuin met ‘n silwerboom wat besonder hoog staan, speldekussings en pragtige Madiba proteas.
Dié protea is ‘n kleiner familielid van ons nasionale blom, die Koningsprotea (protea cynaroides).
Die Koningsprotea, ook bekend as die reuse-protea, koningsuikerbos of heuningpot, is die grootste lid van die protea-genus.
Die Madiba het ‘n besondere dieprooi kleur en blom van Julie tot September op lang stele.
Dit is vernoem na die stam van oud-president Nelson Mandela.
In Leukes se tuin floreer dié besondere blomme, wat tot twee meter hoog groei, en hy het hulle aan mekaar gebind vir beskerming teen die wind.
*Die oorsprong van die Madiba-naam is volgens die Nelson Mandela-stigting die naam van ‘n stamhoof wat in die 18de eeu regeer het. Dit is die stam waaruit Mandela kom.