Agri/BusinessGeneralNews

Nuwe era vir toerisme in die Swartland

“Ons het só ‘n groot toerisme-aanbieding.

Met die ontbinding van Swartland Toerisme aan die einde van die huidige munisipale finansiële jaar, breek daar ‘n nuwe era vir toerismebestuur in die streek aan.
Die Kaapse Weskus Swartland Toerisme-organisasie soos dit tans bekend staan, moet plek maak vir ‘n nuwe maatskappy wat net Swartland Toerisme sal heet.

‘n Loodskomitee moet die nuwe nie-winsgewende maatskappy op die been help bring.
dié courant het met die streek se toerismebeampte, Kiewiet van Rooyen, gesels oor die planne.

Toerisme in die Swartland sal volgens die nuwe model wat deur konsultante van die munisipaliteit opgestel is, meer gesentraliseer bestuur word.
‘n Hoof uitvoerende beampte met direkteure sal verantwoordelik wees om na toerisme in die Swartland om te sien.
Die bestaande kantore word ook van vyf na drie verminder met die sentrale streekkantoor wat steeds op Malmesbury sal wees. Daar sal ook ‘n persoon wees wat die administratiewe take verrig.
Dit beteken Malmesbury en Moorreesburg sal nie meer hul eie dorpskantore hê nie. Die toerisme van Moorreesburg en Koringberg sal saam met Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel uit laasgenoemde dorp se kantoor gekoördineer word.
Van Rooyen sê al is die nuwe strategie nie in beton gegiet nie, is dit tans die beplanning.

Op die bestaande organisasie se Algemene Jaarvergadering is Roy Adcock van Darling tot ondervoorsitter vir die laaste jaar tot einde Junie 2022 verkies in die plek van Eric Venter wat bedank het.
Die voorsitter is steeds Henk Bruwer met Dawie Scholtz van Yzerfontein as tesourier.
Die ander dorpsverteenwoordigers is Terry Marsh van Darling, Sean Cleary-le Grange en Zakkie Bester van die Riebeekvallei, Tania le Roux en Karin Theron van Moorreesburg met raadsheer Marlene van Zyl en Ilse Loock vir die Swartland Munisipaliteit.

Van Rooyen sê die idee is om die Swartland as handelsmerk te versterk. “Al die dorpe moet ook begin Swartland dink en nie net op hul eie dorpe konsentreer nie.
“In die Swartland het ons só ‘n groot aanbieding. Ons het als. Van die berge tot die see, riviere, strande, oop wye vlaktes, wyn en olywe, soveel aktiwiteite soos gholfbane en baie goeie bergfietsroetes en staproetes. Ons het ‘n wêreldklas San-erfeniservaring by !Khwa ttu, valskermspring en die Misverstanddam. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid akkommodasie en kampeerareas vir die buitelugliefhebbers.”

Vir die nuwe toerismestruktuur moes die Swartland Munisipaliteit hul toerismebegroting opwaarts aanpas.
Van Rooyen verduidelik dat dié verhoging oor drie jaar ingefasseer word, waarvan die eerste gedeelte reeds van vanjaar van krag is.
Sy voeg by dat “ons baie gelukkig is in die Swartland met ‘n munisipaliteit wat die groter prentjie raaksien en besef hoe belangrik toerisme vir die streek is. Dit is nie alle munisipaliteite wat dit doen nie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!