LatestSchools

Malmesbury kry straks nuwe Afrikaanse hoërskool

Daar is planne om ‘n nuwe onanfhanklike hoërskool in Malmesbury te bou met gesprekke wat tans tussen die Swartland Munisipaliteit en die MOS Inisiatief gevoer word.
Die moontlikheid van ‘n skool van dieselfde groep later op Darling is nie uitgesluit nie.

Die terrein tans in die kollig vir die skool op Malmesbury is dié van die ou gholfbaan aan die oostekant van die dorp.
Luidens hul webwerf is Die MOS Inisiatief (moedertaal in onafhanklike skole) ’n “privaat maatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is met die doel om ’n Afrikaanse skolenetwerk daar te stel om uitmuntende onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.”

Die uitvoerende hoof van Die Mos Inisiatief, Roedolf van der Westhuizen

dié courant het met Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Mos-inisiatief, gesels.
“As organisasie lê ons hart by innoverende, inklusiewe toeganklike onderrig in Afrikaans.
“Ons wil rerig graag ook op die platteland veral op ‘n plek soos Malmesbury verseker dat daar nog vir baie jare goeie toegang tot kwaliteit onderrig in Afrikaans sal beskikbaar wees,” sê hy.
“Saam met die ongelooflike groei wat in Malmesbury ekonomies aangaan, sien ons natuurlik die geleentheid om ook daarmee saam ‘n onafhanklike Afrikaanse skool daar te vestig.

“Die skool sal nie noodwendig bestaande skole enigsins benadeel nie, maar eerder hulle versterk en nóg ‘n moontlikheid vir kinders en hul ouers gee vir kwaliteit onderrig in Afrikaans.
Hy sê soos hulle “verstaan van die plaaslike mark is die laerskole redelik sterk, maar die hoërskool is soos die Engelsman sê ‘over subscribed’ en kan doen met ‘n tweede opsie.
“Ons het tans drie skole landswyd en ‘n aanlyn tuisskool wat sedert die pandemie laasjaar ontstaan het – enetjie in Pretoria, een in Rustenburg en een in die Noord-Kaap naby Jan Kempdorp.
Die grootte van die beoogde skool “is nog oop vir bespreking. Ons doen maar nog ‘n bietjie ons navorsing in terme van die markgrootte en hoe groot die marksegment daar is. Eintlik maar wat die gemeenskap se nood is,” verduidelik hy.
Gepols oor die tydsraamwerk, sê Van der Westhuizen aan dié courant dit is ‘n moeilike een om te sê.

“Ons werk saam met die plaaslike owerhede om ‘n stuk grond waarop so ‘n skool gebou kan word, te bekom. Sodra ons ‘n stuk grond vas het en kan begin beplan, kan ‘n mens ‘n tyd daaraan koppel.
As ons die stuk grond bekom het en al die regte is in plek, dan praat ons van 18 maande op die meeste. Dit is definitief op die kort termyn.”
Oor skoolfonds sê hy die beleid is dat dit moet toeganklik wees en dus bekostigbaar.

“Dit sal natuurlik ‘n bietjie duurder wees as ‘n Model C-skool, want ons kry geen subsidie van die staat af nie, maar ons wil definitief nie in die duurste segment van private onafhanklike skole wees nie. So dit moet bekostigbaar wees om by te woon.”
Op ‘n vraag oor die moontlikheid van nog ‘n nuwe skool elders in die Swartland op ‘n dorp soos Darling, het hy bevestig dat daar wel ‘n moontlikheid bestaan en dit ondersoek word, maar dat “dit baie vroeg is om finale antwoorde daaroor te kan gee”.

Leave a Reply

error: Content is protected !!