Swartland se olyfolies presteer weer
Olyfolies uit die streek het weer hul slag gewys op SA Olive se nasionale toekennings en ‘n klompie madaljes geoes, waaronder goud vir Olive Boutique en Porterville Olives.
Die olies uit die groter Swartland wat goud behaal het, is Olive Boutique se Frantoio in die afdeling vir delikate olies en Porterville se Andante Intenso (medium olie) en Andante Forte (intense olie).
Porterville het ook ‘n silwer ingepalm met hul medium olie, Andante Mezzo. In die afdeling het Het Vlock Casteel se Vlok Blend en Olive Boutique se Frantoio-Coratina elk ‘n bronsmedalje ontvang.
Olive Boutique het ook in die afdeling vir intense olies silwer verwerf met hul Coratina-Leccino.
Die Italiaanse voorsitter van vanjaar se beoordelaarspaneel vir die nasionale olyfolie-toekennings was die ervare Aldo Mazzini. Hy het gesê: “Ons het in die kompetisie ‘n goeie persentasie olies van baie hoë gehalte met kompleksiteit, harmonie en karakter beoordeel. Dit is olies wat ek graag wil vergelyk met die groot skilderye van die impressioniste: EVOO’s (Extra Virgin Olive Oils) met wonderlike kleure wat emosies kan opwek en besondere kleur kan verleen aan die disse op enige tafel ter wêreld.”
SA Olive is ‘n organisasie wat, luidens hul webwerf, die gemeenskaplike belange van die Suid-Afrikaanse olyfbedryf verteenwoordig. SA Olive-lede bestaan uit olyfboere, olyfolieprodusente, tafelolyfprodusente, kwekerye en olyfinvoerders.
“SA Olive is daartoe verbind om ‘n gesonde toekoms te ondersteun, dit wil sê ‘n gesonde toekoms vir sy lede, gesonde groei en ontwikkeling vir die bedryf en ‘n gesonde leefstyl vir alle Suid-Afrikaners.”
By die toekenningsgeleentheid het die voorsitter van SA Olive, Nick Wilkinson, gesê daar word elke sekonde 5 tot 7 olyfbome wêreldwyd geplant – gemiddeld 160 tot 200 miljoen bome per jaar.
“Daar word verwag dat olieproduksie in die volgende tien tot vyftien jaar tot meer as 6 miljoen ton olie sal verdubbel.
“Multinasionale ondernemings belê en groot produsente word al hoe groter.”
Daar word duidelik geglo dat die verbruikersaanvraag sodanig gaan toeneem, het hy bygevoeg.
“Verbruikers begin verstaan waarom ekstra suiwer olyfolie die beste vet in hul dieet moet wees en wil nou maklik kan onderskei tussen die ware produk en bedrieglike olies.
“Mededinging is nie onder mekaar nie, maar eerder teen die gesubsidieerde invoer. Die goedkoop nare gemors wat ons land binnekom. Onbetwis, bedrieglik geëtiketteer, trek dit die persepsie oor die prys van ons plaaslik vervaardigde olies skeef.
“Dit is tyd om voordeel te begin trek uit die huidige wêreldwye neiging en ons plaaslike verbruikers te lei om plaaslik te koop en kwaliteit bo kwantiteit te herken.
““Daag die restaurante wat ingevoerde vullis opdis, uit. Bevraagteken jou plaaslike supermarkbestuurder oor die besluit om hul rakke met swak ingevoerde produkte te laai en sodoende ook ons werkloosheidsprobleme te vererger,” het hy gesê.