Agri/BusinessGeneralNews

La Meyer Swartland se top-landbouwerker

Ek het vanjaar gevoel ek wil weer inskryf nadat ek ‘n paar jaar gelede met minder sukses in ‘n ander afdeling deelgeneem het.
Só het Sergio La Meyer, vertel toe hy vanmiddag as die Swartlandstreek se Landbouwerker van die Jaar vir 2021 aangewys is.

La Meyer van Goedgedacht Trust het dié toekenning ontvang by die Allesverloren Onthaalsentrum buite Riebeek-Wes. Hy het in die afdeling vir junior bestuur eerste geëindig met Frederick Nero van Rooidraai in die tweede plek en Jan Heynse van Kloovenburg derde.

Hy het almal betrokke by die kompetisie bedank vir hul onderskeie bydraes asook “my kollegas sonder wie die kompetisie nie moontlik sou wees nie”.

Goedgedact Trust het ook die prys ontvang vir die bes presterende plaas in dié Swartland-been van die provinsiale Landbouwerkerskompetisie.

Die kompetisie word reeds vir jare in verskeie streke in die Wes-Kaap deur die provinsiale departement van landbou aangebied saam met Shoprite as medeborg. Dit kon nie verlede jaar aangebied word nie.
In die Swartland word die streekkompetisie deur die bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete, Jolene Janse van Rensburg, gekoördineer.

Die beoordelaars vir die kompetisie was vanjaar Byron Jacobs en Zyta Soomar van die Wes-Kaap se Department van Landbou (plaaswerker-ontwikkeling), Fergie Thompson van Agrimark in Riebeek-Wes en Rendani Molovi ook van die Department van Landbou (Malmesbury-kantoor).

Anna Nobangela van Goedgedacht het as seremoniemeester opgetree. Sy het produsente bedank wat die potensiaal in die landbouwerkers raakgesien het om hul aan te moedig om aan die kompetisie deel te neem. Sy het ook dié produsente bedank wat tydens die Covid-pandemie uit hul pad gegaan het om alternatiewe werk te skep eerder as dat werkers hul werk verloor het.

Clifford Julius van Paardebosch het die toekenning ontvang vir die deelnemer met die beste potensiaal.

Die ander uitslae van vanjaar se kompetisie is (1ste drie plekke in die onderskeie afdelings):
Algemene werker
Mathew Pietersen, Chalala
Jerieve Lambrecht, Franki’s Vineyards
Herman John Makiet, Môrelig

Trekkerdrywer
Johannes Schalkwyk, Wynkeldershoek
Rowan Bartman, Kloovenburg
John Solomons, Lammershoek

Administratiewe Personeel
Natasha du Toit, Franki’s Vineyards
Elsebee Faroa, Wynkeldershoek
Juanita Liedeman, Goedgedacht

Voorman/vrou
Joseph Jacobs, Slimsun
Hendrik Goliath, De Hoop
Benjamin Booysen, Paardebosch

Al die kategoriewenners sal nou aanstaande maand teen die wenners uit die ander streke meeding om die provinsiale toekennings.

Leave a Reply

error: Content is protected !!