!Khwa ttu breek nóg ‘n stukkie erfenis oop
Johan Viljoen
Een van die kultuurerfenisjuwele in die Swartland, die San-erfenissentrum !Khwa ttu, vier erfenismaand en toerismemaand op ‘n gepaste wyse met ‘n unieke nuwe toevoeging tot die spyskaartervaring – die Kos van ons Voorvaders-projek.
Ná heelparty besoeke aan dié besondere bestemming neffens die Weskuspad naby Yzerfontein, is elke keer ‘n nuwe ervaring met net nóg nuwe dinge – soos ‘n verrassingspakkie.
Ja, daar is soveel inligting opgesluit in dié moderne museumervarings in verskillende geboue onder kuratorskap van dr. Chris Low, dat dit onmoontlik is om met een besoek te absorbeer.
Maar die museums is net een deel van !Khwa ttu.
Die plek is ook ‘n buitelugbestemming met verskillende akkommodasie, wild, ooptes en stap-, draf- en fietsroetes.
Ook die restaurant mey sy nuwe spyskaartervaring is werklik uniek en besonders.
Kos en kombinasies met erfenisgoed soos jy nog nooit op ‘n ander plek kon ervaar nie.
‘n Spanpoging met passie afgerond deur die jong borrelende sjef, Werlise Rautenbach.
Van die twee verwelkomingsdrankies – kei-appel of boegoe tot die nagereg – as’t ware mosbolletjie Franse Roosterbrood (French Toast) bedoen met appelkooskonfyt en suurlemoenroom en roomys.
Die nuwe toevoeging tot die !Khwa ttu-aanbieding is verlede week bekendgestel met ‘n besoek deur die Wes-Kaap se minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, en uittredende burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas.
Cleophas het gesê dit was sy laaste amptelike afspraak in dié amp en hy het gekies om sy dienstermyn by die WKDM op ‘n hoogtepunt af te sluit.
Naas die besoek aan die moderne multimedia-museumuitstallings het die bekendstelling ook die braai van jou eie stukkie springbokvleis op die kole ingesluit.
Die restaurant se spyskaart is propvol interessante disse, gemaak met bestanddele van die plaas en die omgewing.
By ons aan die tafel sit ‘n boorling van Darling en eienaar van Darling Gourmet Mushrooms, Kowie van Tonder. Sy lewer van haar besondere sampioene aan !Khwa ttu. Van Tonder gesels oor haar grootwordplaas en haar besluit om af te skaal met die sampioenboerdery in eertydse militêre kasernes op haar plaas en haar nuwe visie om te strewe na dekommersialisering.
Op die !Khwa ttu-spyskaart is daar ook askoek en heuningbotter en heerlike seekossop. Laasgenoemde in samewerking met die Abalobi-projek waar kleinskaalse en bestaansvissers ondersteun word om vars vis aan te koop. En daar is bv. spekboompesto om die geure aan te vul.
Ook heerlike wildsvleis van die plaas met vars slaai en geroosterde blomkool en mannapap en vele meer.
Minister David Maynier het by die bekendstelling beloof dat die provinsie kliphard help baklei dat oorsese toeriste van plekke soos Brittanje weer na die Wes-Kaap kan reis en die land van rooi lyste verwyder word.
Hy het !Khwa ttu geloof vir hul innovering in die Covid-tyd.
Hul Kos van ons Voorvaders-projek is een van elf projekte wat deur die provinsie se nuwe toerisme-produkontwikkelingsfonds ondersteun word. Die fonds is verlede jaar gestig en het reeds byna R6 miljoen bygedra om nuwe en bestaande toerismeprodukte te ondersteun.
Besoekers kry ‘n unieke geleentheid om met toergidse ‘n stukkie van die erfenis te beleef met stories van die San en ook die insamel van kos uit die veld en jagveld.
Die projek maak deel uit van die Weskusroete van die Wieg van die Menslike Kultuur en het ten doel om die besoekertalle en inkomste uit toerisme te verhoog.
Mainier het bygevoeg dat hul op dié manier nie net 44 werksgeleenthede kon behou nie, maar ook 16 nuwe werksgeleenthede wil skep en daarmee saam 10 plaaslike verskaffers van bestanddele vir die nuwe spyskaart kan ondersteun.
Hy het gesê: “Almal kan ‘n rol speel in die herlewing van toerisme in die Wes -Kaap deur klein ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsektor te ondersteun.
“Onthou ook dat u dit veilig kan en moet doen deur te voldoen aan die gesondheids- en veiligheidsriglyne om u en u geliefdes teen Covid-19 te beskerm.”