Nuwe baadjie vir Riebeekvallei se kunste

Die Riebeekvallei word reeds geruime tyd as ‘n besondere kunsbestemming in die Swartland bemark.
Die konsep en handelsmerk Arts Town Riebeek Valley is deur Klaus Piprek gevestig nadat hy ‘n paar jaar die gewilde Solo Studios aangebied het. Hy het ook intussen nou begin saamwerk met ander kunslui in die vallei, waaronder die teaterman Mark Graham-Wilson wat verlede jaar die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) geopen het.

Die knou wat die kunste en toerisme, ook in die Riebeekvallei, toegedien is weens Covid ten spyt, het ure se beplanning en innovering gesorg dat daar deurlopend nuwe kunsprojekte gebore is.
Nou het Arts Town Riebeek Valley en Riebeekvallei Toerisme hande gevat en sal laasgenoemde dié handelsmerk gebruik om die kunste in al sy vorme in die vallei te help bevorder en bemark.
Voorsitter van Riebeekvallei Toerisme, Sean Cleary-le Grange, verduidelik aan dié courant dat dié konsep nie net tot beeldende en uitvoerende kuns beperk is nie. “Dit is eintlik die kuns van als. Onder andere ook die kuns van wyn maak en die kuns van kos maak (met en sonder olywe).”

Cleary-le Grange het ook die First Fridays-projek wat nou reeds baie gewild is en ‘n instelling geword het, help loods.
Hy beklemtoon dat die vallei en sy toerismeprodukte in samewerking met die res van die Swartland se toerismeprodukte bemark moet word. “As een baat, dan baat almal. Binne-in ‘n dorp en so ook binne-in ‘n streek.” Cleary-le Grange voeg by dat alle eienaars van eiendom ook baat as ‘n dorp gewild raak en die waarde van hul eiendom styg.

Donker Jonker met ‘n uittreksel uit sy eenmanvertoning Eerstemense

Piprek het aan dié courant bevestig dat hy die handelsmerk aan die toerismeliggaam beskikbaar gestel het vir so lank hulle dit wil gebruik. As hulle later van plan verander of nuwe toerismestrukture die ooreenkoms nie wil voortsit nie, sal hy dit weer self bedryf.
Intussen spog Arts Town Riebeek Valley met ‘n splinternuwe embleem wat hul by ‘n media-geleentheid bekendgestel het.

Tamzin Lovell Miller het ‘n gedig voorgedra

Lede van die media het ‘n blitservaring met ‘n propvol en indrukwekkende program meegemaak om hul bekend te stel aan van die besondere produkte wat die vallei besoekers bied.

Piprek het by die geleentheid verduidelik dat Arts Town Riebeek Valley eintlik ‘n sambreelorganisasie is wat al die kunstenaars van die vallei kan verteenwoordig. Die doel van die organisasie is om kreatiewe inisiatiewe te fasiliteer en te ontwikkel en kunstenaars aan te moedig en te ondersteun, terwyl vaardighede, tegnologie en kundigheid verskaf word.
“Dit het ten doel om die vallei as ‘n uitstekende kultuurtoerismebestemming te bemark en uit te bou.”

Arts Town Riebeek Valley, sê Piprek, help leiding neem om die plaaslike toerismebedryf wat weens die Covid-pandemie grotendeels tot stilstand gedwing is, as ‘n kardinale deel van die plaaslike ekonomie te laat herleef.
Hy het bygeveog dat hulle deurentyd nuwe produkte en projekte sal onwikkel namate die inperkings verlig word.

*Graham-Wilson het ook die eerste produksies van die nuwe somerseisoen by Rata aangekondig.
Die volgende produksie word in samewerking met Hoofstraat Conceptual aangebied.
Nibs van der Spuy en Guy Buttery saam in Nibs & Guy live in Riebeek.
Die twee deel die verhoog al vir meer as 15 jaar en tree op 16 Oktober om 20:00 by Rata op.
Hul nuutste CD, Live in Lisbon, wat langs die Taagrivier in Belém aan die buitewyke van Lissabon opgeneem is, word ook by die vertoning bekendgestel.
Bespreek by https://artstown.co.za/events/nibs-and-guy/
kaartjies kos R150
20:00 to 21:30

Leave a Reply

error: Content is protected !!