Edas-sibbe jaag 1ste plek in afdeling los
Die broer-en-suster-span Junayed en Reyanah Edas het dié naweek behoorlik die klippe laat spat toe hul die S3-afdeling in die Riebeek-veldren gewen het.
Dié twee Swartlanders wat in ‘n motorsporthuis grootgeword het met pa Cobus wat self ‘n deurwinterde renjaer is, het ook algeheel 5de geëindig in die Freightmore Express Riebeek Valley-wedren. Hulle het in sewe van die die skofte baie goed gevaar, maar waardevolle tyd in die 3de skof verloor.
Die wedren wat oor 8 skofte beslis is, het Saterdagoggend in Malmesbury begin en die eindpunt was by die Nuweplaas-padstal langs die Riebeeksrivierpad.
Daar het een van die lede van die Silwer Valke van Langebaanweg, majoor Angus Maleka, die middag ‘n sololugvertoning gelewer in ‘n Pilatus PC7 MkII.
In Saterdag se wedren het LLewellyn Jones en Christophé Pichon in hul Subaru Impreza WRX STi 2.0 Turbo 4×4 die S5-afdeling gewen en ook algeheel eerste geëndig. Hul wentyd was 01:04:36.
Dié twee is gevolg deur Owen Jones en Ingrid Jeacocks in hul Subaru Impreza WRX STi 2.0 Turbo 4×4 met ‘n tyd van 01:09:17.
Inus du Plessis en Piet Carinus het die derde plek op die algehele podium losgejaag in hul BMW E36 328i (01:12:24).
Hulle is gevolg deur Francois Vermaak en Paul Ludeke in hul Volkswagen Citi Golf MkI 1.4i (01:18:12) wat die vierde beste tyd aangeteken het.
Heelparty deelnemers het teëspoed gehad en kon nie die tydren voltooi nie.