CommunityLatest

Jordaan trek posdeur toe ná 47 j

Vir byna vyf dekades het sy in die klein poskantoor – later ‘n posagentskap – op Riebeek-Kasteel gewerk, maar Donderdagmiddag het sy die deur vir die laaste keer agter haar toegetrek.
Op die deur is ‘n kennisgewing: Die kantoor is van 1 Oktober af gesluit.
dié courant het met Janet Jordaan gesels op haar laaste oggend as as’t ware “die posmeester” van dié klein Swartlandse dorp waar sy vir 47 jaar die posdiens behartig het.

Sy het destyds eers in die poskantore op Riebeek-Wes en Malmesbury gewerk, voor sy in 1974 op 29 op Kasteel aangestel is.
“Dit was ander tye. Die kantoor was daar waar Pam Golding se kantoor nou in Pleinstraat is.
“Toe was dit nog ‘n volwaardige poskantoor tot dit in 1997 ‘n posagentskap geword het.
“Ek het baie mense se kinders voor my sien grootword.
“Hulle onthou dit. Want ek het ‘n ou groot breë toonbank daar gehad en dan het die pa’s en die ma’s altyd hulle kinders saamgebring en hulle op die toonbank getel. Dan het ek met die kinders gespeel en gesels en ‘n band gebind met al die mense.”
Sy vertel met ‘n glimlag verder. “Nou sê ek vir hulle ek het vir hulle die kinders help grootmaak. Toe sê Henk Bruwer eendag vir my ek het ‘n sleg job gedoen daarvan.”

“Dit was baie lekker jare, hoor. Langs my was Barclays Bank (Eerste Nasionaal) en in die hoek was daar ‘n klerewinkeltjie. Agter waar die restaurant nou is, was ‘n kliniek en ‘n ou oom het ‘n manshaarkapper daar gehad.
“Ek het lekker daar gewerk. Die sentrale was nog aan die agterkant. Hulle het baie keer vir my gevra of ek nie ook daar wil kom werk nie, maar ek het nooit die vrymoedigheid gehad om voor daardie masjien te gaan sit nie. Nommer asseblief.”
Die gebou daar is later deur ‘n Hollander gekoop en hy wou die huur verhoog en haar inkomste uit die posagentskap was nie genoeg daarvoor nie.
Die kantoor hier in die hoek op die stoep van die munisipale gebou het lank leeg gestaan, sê sy.
Dit was voorheen ‘n winkel en ‘n bank-agentskap. Sy het 19 jaar gelede hierheen geskuif.
“Toe het ek eers begin lekker werk met die lekker spasie hiervoor. “
Dit is hier waar sy ook nou die laaste keer die deur agter haar toe trek.
Hoe oud is tannie dan nou: “Ek gaan nie dit vir jou sê nie.”
“Ek is 76.”

Klein van postuur waar sy hier voor daardie tipiese poskantoorrakkies staan, vertel Jordaan sy kom uit die Sandveld uit. “Daar anderkant Piketberg.”
Daar staan nog ‘n ou waterroller waarmee koeverte en seëls “natgelek” word, op die toonbank. “Ja, dit het nie verander nie.” Daar staan ook ‘n spuitbotteltjie met handreiniger teen Covid.
“Ek dink nie ek het ‘n vyand hier nie. Ek het altyd vir mense gesê. Ek sê dit nou nog. Ek kan nie van almal van julle verwag om vir my lief te wees nie, maar ek wil nie hê een van julle moet vir my kwaad wees nie. Ek dink nie ek hoef weg te gaan en sleg te voel om weer hier te kom nie.
“Die wêreld het baie verander.
“Dit was maar gevaarlik, maar ek was nooit bang nie. Hier het nooit iemand gekom wat my kom bedreig het nie. Ek is mos maar klein.”
Sy gesels oor destyds toe hier ook nog posaflewering en ‘n bode was wat aflewering gedoen het tot dit ‘n posagentskap geword het. Toe moes almal posbusse kry.
“Die pos kom elke oggend.
“Daar was eers net ‘n 100 posbusse en toe later 300. Nou is daar 400 busse.”

In die beginjare “het ek nog posorders verkoop en pensioene uitbetaal. Ons het baie seëls verkoop en die bode het telegramme afgelewer.
“Ons het baie pensioene uitbetaal. En ja, dit was mos Apartheid nog gewees toe ek daar gekom het. Die kantoor het twee ingange gehad met ‘n partisie in die middel. Ag dit was altyd wreed gewees, maar dit was mos nou daai tyd reg.
“Telegramme was mos die kommunikasie. Ons het baie telegramme gekry. Met ‘n troue dan maak ons lekker die telegramme bymekaar. Ons wou nou nie elkeen apart aflewer nie. Dan sit ons almal bymekaar in ‘n groot koevert. Ons het mooi koeverte gehad – so met ‘n blommetjie. En dan stuur ons die bode net voor toemaaktyd met die handvol telegramme.
“Dit was interessante tye. Ek het dit baie geniet. Rerigwaar.
“As mense briewe en pakkies wou kom wegstuur, het elke land se tariewe verskil. Dan moes ons dit op die tabelle kyk en weeg en stempel.”

Sy onthou die dag toe een tannie ‘n brief na die Koningin wou pos.
“Hier was ‘n tannetjie gewees. Een dag. Ek weet nie of sy iets gekry het van die koningin van Engeland nie. Ek weet nie hoe die verbintenis was nie, maar dié dag het sy gekom met ‘n brief wat sy vir die Koningin wou stuur. Sy wou vir haar ‘n spesiale geskenk stuur. Toe blaai ek die boek met die seëls van vooraf deur om die mooiste seëls te kies.
“Tannie Dawie, kom ons gee vir haar mooi seëls. Sy het nie omgegee om te betaal nie. Heelwat meer as die posgeld.
“Ons het baie interessante seëls gehad deur die jare. Ons het die koevert mooi geplak van onder af. En die brief is gestuur. Wat daarna geword het, dié weet ek nie.”
Jordaan gesels ook oor die geboue oorkant die pad in Sarel Cillierstraat.
“Jare gelede,” sê sy, “was daar nog petrolpompe op die sypaadjie” waar die Mama Cuccina-restaurant tot onlangs was.
Dit word glo nou binnekort ‘n Belgiese restaurant.
“Kyk, Nataniel se pa het destyds toe ek en Rhynie nog uitgegaan het, petrolpompe daar gehad. Ek dink hy was ook ‘n werktuigkundige, Nataniël het hier grootgeword.”

Haar man het in 1966 by Kasteel Motors begin werk.
Sy vertel hulle is in 1967 in die Toringkerk in die Paarl getroud. Sy het twee kinders. Thea (Mc Kinnon) en Jorries woon albei op Malmesbury. Sy het ook drie kleindogters.
Haar man, Rhynie, is ses jaar gelede oorlede.

“Dit is lekker om deel te wees van dié plek. Weet jy watse wonderlike mense is op dié dorp. En nie net Afrikaanssprekende mense nie. Ons het mekaar laat tuisvoel. In my gebroke Engels het ek vir hulle probeer help.”
Ná Covid het sy die agentskap se ure ingekort. “Covid het vir my lekker bederf. Covid het vir my ‘n lekker gryskop gegee en toe besluit ek ek gaan ook nie heeldag werk nie. Ek was mos vir vyf weke toe. Kyk dit was vir my vakansie. Ek het mos nooit vakansie geken nie. Want as ‘n mens alleen werk, kan jy mos nie vakansie vat nie.”
En nou? Wat gaan sy nou doen?
“Nou gaan ek weer vakansie hê.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!