7de Purpurfees Saterdag op Riebeek gehou
Die Purpurfees word vanjaar vir die eerste keer op Riebeek-Kasteel aangebied.
Dié onkonvensionele fees is ‘n jaarlikse geleentheid met Nuwe Musiek – klank, video, dans, teater en ander kunsvorme – en “oorskry” volgens die organiseerders “die grense van die standaard musiekkonsert”.
By vanjaar se fees sal die werke van nasionale en internasionale Nuwe Musiek-komponiste soos Michael Blake en Pierre-Henri Wicomb Saterdag 9 Oktober vertolk word deur verskeie kunstenaars.
Daar is ook werke van jong opkomende komponiste wat vandeesweek by die “Kerksaal” deelneem aan die 8ste byeenkoms van die Sterkfontein-komponiste – ‘n forum waar jong komponiste in die loop van ‘n week die geleentheid kry om hul eie komposisies met gesoute komponiste en internasionale kunstenaars te verfyn.
Onder die kunstenaars by hierdie sewende uitgawe van die Purpurfees is Wilmien Wicomb, Likhona Tokota, Garth Erasmus, Esther Marié Pauw, Visser Liebenberg, John Pringle, Michael Blake en Pierre-Henri Wicomb wat deelneem en werke uitvoer van die Suid-Afrikaners Pierre-Henri Wicomb, Michael Blake, Miles Warrington en Meryl van Noie, sowel as komponiste van regoor die wêreld: Markus Trunk, Robert Ashley, Jackson Mac Low, Tom Johnson en Cornelius Cardew.
Die werke wat gehoor kan word, sluit ook die Four Pieces for Orchestra deur Yoko Ono in.
Onder die hoogtepunte tel ook vyf nuwe komposisies vir horing en lewende elektronika deur die fees se internasionaal gerekende gaskunstenaar, die Sweed Sören Hermansson, sal uitvoer. Hy is veral bekend vir sy vertolkings met die horing en elektronika.
Bespreek kaartjies by https://www.quicket.co.za/events/142637-purpur-festival/