Covid-fliek speel Saterdag by Rata
Die tweede somerseisoen van die jong maar reeds bekroonde Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op Riebeek-Kasteel word dié naweek voortgesit met die aanbieding van ‘n unieke film.
Die nuwe somerseisoen duur tot in Mei aanstaande jaar met ‘n verskeidenheid produksies van teater, woordkuns, musiek en fliek.
Rata, onder leiding van teaterdirekteur Mark Graham-Wilson, het onlangs die eerste Poetry in Communities-toekenning ontvang op die Poetry Africa Festival vir hul kortfilm Poetry From the Valley/Verse Uit die Vallei.
Hierdie Saterdagaand 6 November kan teatergangers die eenmalige vertoning van Covid Moons – The Movie by Rata sien.
Die teater het verlede jaar, midde die Covid-tyd, die eerste keer geopen met die teaterstuk Covid Moons, geskryf en onder regie van Clare Stopford.
Dit is later, toe dit met ‘n nuwe rolverdeling weens Covid-inperkings nie by die 2021 Nasionale Kunstefees in Makhanda op die hoofprogram op die planke kon wees nie, in Kaapstad verfilm om te beeldsend.
Nou kom die fliek oor twee jongmense uit baie uiteenlopende agtergronde wat in twee aangrensende woonstelle vasgevang is tydens Covid en die uitdagings wat dit aan hul nuutgevonde vriendskap bied, Rata toe.
Die rolprentsterre Celeste Loots en Thulani Nzonzo vertolk die rolle van Magda en Lufuno in die tuimeltreinrit van die komiese en aangrypende realiteite.
Geniet Saterdagaand ‘n opelug-bioskoop – kompleet met springmielies en drankies! Daar is ook ‘n geleentheid om die skrywer/regisseur en die akteurs te ontmoet.
Bespreek kaartjies op Webtickets by of volg die skakel by www.artstown.co.za/events
Slegs een vertoning.
Saterdagaand 6 November om 20:15
Kaartjiepryse: R50