Reuse-kersboom op Riebeek aangesteek
Desember is op ons. Kersfees kom.
Dit is die tyd van kersvader en ‘n tyd van gee.
Daar is soveel uiteenlopende tradisies, gebruike en instellings.
Kersbome word opgemaak en liggies verlig die gemoed van oud en jonk.
Op Riebeek-Kasteel is daar ook die afgelope jare ‘n nuwe instelling om elke eerste naweek van die maand (dit was eers net die Vrydag) ‘n spesiale geleentheid te skep om te kuier, fees te vier en ook in die moeilike pandemietyd ondernemings, waaronder restaurante, te ondersteun.
First Fridays het elke keer ‘n ander tema en het nou al só gewild geword – nie alleen is dit al ‘n hele naweek nie, maar dit het ook uitgebrei na ander deelnemende ondernemings in die streek.
Hierdie komende naweek is geen uitsondering nie en die span van First Fridays het gewoeker om dit ‘n spesiale een te maak.
Die huidige kersboom op die Plein op Riebeek-Kasteel word met ‘n reuse-staalboom (6 meter in deursnee en 12 meter hoog) vervang en die honderde meter liggies sal Vrydagaand aangesteek word.
Dit val saam met ‘n spesiale kinderprogram wat Vrydagaand by die Royal Arts Town-amfiteater aangebied word waarna die kinders die liggieseremonie sal meemaak. Kompleet met kersvader, ‘n aandkersmark en vermaak.
Volgens die beplanning sal die liggies om 20:30 aangeskakel word.
Daar sal ook lekkergoed vir die kinders wees.
Sean Cleary-Le Grange, voorsitter van Riebeekvallei Toerisme, sê hulle wil dié geleentheid ‘n jaarlikse instelling maak. “Ons hoop om mense uit die streek en ook uit Kaapstad Vrydag daar te verwelkom.”