EntertainmentLatest

Rata bied kinderteater en digkuns

‘n Naweek propvol kuns en vermaak gepaar met produkte uit die streek wag weer die komende naweek in die Riebeekvallei.
Onder die hoogtepunte op die naweekprogram is ‘n kindervertoning Vrydagaand by die Royal Arts Town-Amfiteater gevolg deur die aanskakel van die liggies van die splinternuwe reuse-kersboom op die plein op Riebeek-Kasteel.

Die kinderteaterstuk Python and the Qunube Tree is Vrydagaand op die planke. Dit is gebaseer op ‘n Afrikaverhaal wat afspeel teen die agtergrond van ‘n erge droogte. Skilpad kom tot almal se redding met die bessies van die Qunube-boom.
Die vertoning is 40 minute lank en geskik vir kinders van alle ouderdomme 6 en ouer.

Die storie word in Engels, Afrikaans en isiXhosa vertel met ‘n groot luislangpop, skreeusnaakse dieremaskers en pragtige sang waar die kinders leer oor deel, deursettingsvermoë, vertroue en dat almal talente het wat ontdek moet word.
Python sal direk ná die vertoning die kinders van die Amfiteater na die dorpsplein begelei om na die aanskakel van die groot kersboom te kyk en ‘n paar klein bederfies te ontvang.
Die vertoning van Python and the Qunube Tree by Rata begin om 19:30.
Daar is nog kaartjies beskikbaar.

*Die ander Rata-produksie vir Vrydagaand is die eerste van die naweek se digkunssamewerking met Poetry Africa.
Die Sentrum vir die Skeppende Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal en RATA het kragte saamgesnoer vir dié naweek van poësie.
Vier besoekende en bekroonde digters – Lebo Mashile, Diana Ferrus, Thando Fuze en Xabiso Vili – sal Vrydagaand met Poetic Encounters 1 in die konferensielokaal by die Royal Hotel gedigte voordra wat deur hul persoonlike ervarings geïnspireer is.
Poetry Africa-kurator, Siphindile Hlongwa, sal die digters betrek in ‘n gesprek oor hul werk, hul lewens en hul inspirasies.
In die gesprek sal hul ook gesels hoe die digters, ondanks die feit dat hulle in ‘n stad woon, gewortel en verbind bly met die kleiner dorpies en valleie om inspirasie te put.
Die vertoning begin om 19:00.

*Saterdag sal die besoekende digters in ‘n werksessie met van die plaaslike digters ‘n program saamstel vir Saterdagaand se Poetic Encounters 2 om 19:00 ook by Rata.
Bespreek kaartjies vir die naweke se vertonings by Rata-besprekings.

Leave a Reply

error: Content is protected !!