Verskeie uitdagings wag – burgemeester Strydom
Die Weskus-distrik se nuutverkose burgemeester, Boffie Strydom, het vandag ná sy verkiesing verskeie uitdagings vir die streek uitgelig waaraan hy in die volgende 5 jaar wil aandag gee.

Raadsheer Strydom van die DA is tot burgemeester verkies nadat hy Siyabulela Gxabalashe van die ANC met 14 stemme teen 7 geklop het. Drie raadslede het buite stemming gebly.
Raadslid Bjorn Witbooi van die Good-party wat vroeër tydens die vergadering olik geraak het, was nie teenwoordig nie. Hy is eers laat in die vergadering, ná mediese bystand, ingehuldig. Vroeër is Kallie Louw van die DA as nuwe speaker verkies. Die ander genomineerde kandidaat was Enid Plaatjies van die ANC.
Die voormalige onderburgemeester van die Bergrivier Munisipaliteit, raadsdame Sandra Crafford, is tot nuwe onderburgemeester van die WKDM verkies.
Strydom het in sy toespraak ‘n beroep op “alle raadslede oor die politieke spektrum heen” gedoen “om ‘n aktiewe rol te speel in die gemeenskappe van die Weskus-distrik. Laat ons as een span saam werk.

“Daar is verskeie uitdagings waarop ons sal moet fokus vir die volgende vyf jaar en ek wil net ‘n paar vir u uitlig: gemeenskapsveiligheid, landelike veiligheid en plaaswerkersprogramme in samewerking met georganiseerde landbou.
“Toerisme, ekonomiese ontwikkeling en werksgeleenthede het as gevolg van Covid-19 swaar gekry en baie aandag sal aan hierdie sektore gegee moet word.
“Ganzekraal is ook ‘n prioriteit, aangesien dit tans nie winsgewend bedryf word nie.”
Hy het gesê die Weskus-distrik het “ook ‘n groot verantwoordelikheid wat die opgradering van paaie betref, veral in ons landelike gebiede.
“Paaie moet geïdentifiseer word. Produktransport van die boer na die mark kan die gehalte van die eindproduk verbeter.
“Toegang na gasteplase sal toerisme ook bevorder.

“Voorsiening van grootmaatwater aan B-munisipaliteite is ook hoog op my prioriteitslys,” het hy bygevoeg.
“Tesame daarmee moet die opgaardamme in ons distrik ook baie aandag geniet.
“Gesondheidsdienste, lugkwaliteitbeheer, brandweer en rampbestuur. Ons sal ook aandag gee aan daardie aspekte.”

Strydom het gesê die WKDM is die enigste distriksmunisipaliteit in die land wat nou 11 agtereenvolgende skoon oudits ontvang het, “wat ‘n baie groot prestasie is. Maar in dieselfde asem. Dit is ‘n standaard wat weer gehandhaaf moet word.
“Baie sterkte aan ons span en baie dankie. Dit gaan nie ongesiens verby nie.”

Hy het vervolg: “As raadslede van die distrik rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons skouers.
Vyf jaar is kort. Kom ons staan saam en werk hard om ‘n sukses van ons vyf jaar te maak.”
En afgesluit” Enigiets floreer op jou voetspore – hoe meer jou voetspore in jou gemeenskap gaan wees, hoe meer suksesvol sal jy wees. Ek sien uit na die volgende vyf jaar.”

Hy het ook die lede van sy burgemeesterkomitee asook hul portefeuljes aangekondig:
Rhoda Witbooi (van Cederberg Munisipaliteit) – Administrasie en gemeenskapsdienste
Onderburgmeeester Sandra Crafford (van Bergrivier Munisipaliteit) – Finansies
Miranda Schrader (van Saldanhabaai Munisipaliteit) – Infrastruktuur
Colin Daniels (van Swartland Munisipaliteit) – Strategiese ondersteuning en ekonomiese ontwikkeling
Joos Engelbrecht (DA Proporsioneel) – Landbou, landelike veiligheid en gemeenskapsveiligheid