Agri/BusinessLatest

De Zwartland bring talle werksgeleenthede – Ehlers

Die nuwe De Zwartland Werf-ontwikkeling in Malmesbury “sal die eerste gemengde-gebruik-ontwikkeling van sy soort en een van die enkele grootste beleggings wees wat nog in die hele Swartland-omgewing gemaak is.”
Só sê Hein Ehlers, groep uitvoerende hoof van die Devmark Eiendomsgroep.

“Die konstruksie en operasionele fase van die projek sal beide kapitaalinspuitings bring wat sal lei tot verhoogde ekonomiese aktiwiteit. Dit kan gemeet word in terme van die impak op indiensneming en gepaardgaande inkomste, met die fokus op die plaaslike omgewing.

Hein Ehlers

“Daar is ‘n aantal gevestigde maatskappye in Malmesbury wat die konstruksiesektor bedien en die jongste opgradering van die N7 het in die onlangse tyd gelei tot ‘n mate van groei in die konstruksie-aanbod. “Dit is vanselfsprekend dat ‘n aansienlike deel van die konstruksie-uitgawes plaaslik aangegaan sal word.”
Ook ander dienssektore waaronder akkommodasie, spyseniering, vervoer, sekuriteit en skoonmaakdienste sal by die konstruksieproses baat, aldus Ehlers.

“Ons skat dat konstruksie van die hospitaal tussen 250 en 470 poste sal genereer oor ‘n tydperk van ses maande en tussen 180 en 300 poste oor 12 maande.
“Die bou van die winkelsentrum sal ongeveer 900 tydelike werksgeleenthede van verskillende duur skep oor ‘n tydperk van een tot twee jaar.

Permanente poste

“Ons voorsien dat 650 permanente poste geskep sal word wanneer die ontwikkeling voltooi is.”
Ehlers sê die kleinhandelomset in Malmesbury en die onmiddellike opvangsgebied beloop ongeveer R2,4 miljard per jaar.


“De Zwartland Werf, en spesifiek die kleinhandelsentrum, sal ‘n geleentheid skep vir mense in Malmesbury en die groter Swartlandstreek om hul inkopies te geniet in ‘n moderne en veilige omgewing met 61 kleinhandelwinkels.”

Toyota

‘n Aantal nasionale korporatiewe huurders, insluitend Checkers, Clicks en Toyota, is reeds bevestig, sê hy.
“Die totale verhuurbare oppervlak wat ontwikkel gaan word, is 35 000m². Dit bestaan uit die Toyota-handelaarskap (2 749m²), kleinhandel (18 271m²), kantore (2 240m²), die hospitaal (8 990m²) met die enigste MRI-skandeerder in die hele Swartland en Weskusstreek en residensieel (2 750m²).

Kunstenaarsvoorstelling

Ehlers sê die ontwikkeling sal volhoubare praktyke inplementeer soos waterwyse en energiebesparende stelsels wat onder meer die hergebruik van gryswater, waterbergingsfasiliteite en stelsels soos energiedoeltreffende beligting, ventilasie, fotovoltaïese panele asook herwinning insluit.

Hy sê naas die siviele werke wat vroeg in 2022 sal begin en die bouwerk aan die kleinhandelsentrum en hospitaal in Augustus, sal bouwerk aan die Toyota-handelaarskap in Januarie 2023 begin vir voltooiing in September 2023.

Leave a Reply

error: Content is protected !!