Top-fotograwe vereer by Swartland Fotografieklub
Herman Olivier van Malmesbury is as die Swartland Fotografieklub se algehele Fotograaf van die Jaar vereer op dié klub se jaarlikse prysuitdeling.
Die Senior Fotograaf van die Jaar is Theuns Olivier van Tzaneen en Soreen Gouws van Piketberg het die trofee vir die Junior Fotograaf van die Jaar ontvang.
Nog ‘n Piketberger Johan Smit is as die klub se Opkomende Fotograaf van die Jaar vir 2021 aangewys en meesterfotograaf Peter Hardcastle het weggestap met die toekenning vir Foto van die Jaar met sy foto: Across the Milky Way.
Die prysuitdeling het saamgeval met die klub se byeenkoms vir Desember.
Drie van die klub se eie fotograwe, Herman Olivier, Adriaan Vlok en Johan Viljoen, het die beoordelingspaneel vir die maand uitgemaak.
Ciszanne Crous van Piketberg het met die louere vir Foto van die Maand weggestap. Haar wenfoto (Special Bond) was ook die beste in die junior afdeling (1 tot 3-ster).
In die tema-afdeling (fotojoernalistiek en straatfotografie) het Noddy Schutte van Malmesbury die wenfoto (Oestyd) ingeskryf.
In die afdeling vir senior fotograwe het Herman Olivier die beste punt behaal met sy werk So Low. Hy het ook die afdeling vir gedrukte foto’s gewen met sy foto getiteld Little House in the Tankwa.
Die afdeling vir selfoonfoto’s is deur JP Crous van Piketberg gewen met sy foto Peace and Tranquility.
Fotograwe wat by die klub aansluit begin op ‘n 1-stergradering en vorder met die punte vir hul inskrywings en later deelname aan eksterne kompetisies (salonne) tot 5-ster- of meesterfotograwe.
Daar is uitsonderings waar ‘n fotograaf ‘n paneel van werk kan voorlê om op ‘n hoër gradering aan te sluit.
Die klub se tema vir Januarie is Vakansie en Feestyd.
Hul vergader op die tweede Donderdag van die maand in die keldersaal van die NG Noordgemeente in Bergzichtstraat, Malmesbury.
Die klub het vroeër besluit om jaarlikse ledegelde weer onveranderd te hou op R250 (volwassenes) en R120 (skoliere).
Belangstellendes kan die voorsitter, Peter Hardcastle, skakel by 083 628 9668.
Besoek ook gerus die klub se facebook-groep by https://www.facebook.com/groups/swartlandphotoclub