Werk vir nuwe streeksentrum/hospitaal begin
Die grondwerke vir die Swartland se eerste groot streeksentrum en private hospitaal het begin.
Die wingerde op die landbougrond op die perseel van 10ha noord van die Malmesbury Skougronde word verwyder en ontwikkelingsbestuurder Jean-Pierre Nortier van Devmark sê hulle “mik om teen die einde van Januarie 2022 te begin met die grondverskuiwing” vir dié R700m-ontwikkeling.
Volgends die beplanning sal beide die De Zwartland Markt-sentrum (ongeveer 100 winkels en restaurante) en die Malmesbury Samaritan Hospitaal (88 beddens en 5 teaters) nou in Oktober 2023 open.
Hulle wil in Januarie “begin om die grootmaatdienste aan te lê na die perseel en hoop dat dit voltooi sal wees teen die einde van April of die begin van Mei.
“Ons wil effektief uit die grond wees wanneer die winter kom.”
“Dan sal die oordragte van die onderskeie komponente van die ontwikkeling as onderverdeelde eiendomme/erwe na die onderskeie entiteite plaasvind. Want die hospitaal, die winkelsentrum, die motorvertoonlokaal en kantore is almal effektief verskillende entiteite.
“Ons hoop om ook in daardie tyd die planne goedgekeur te kry en die tenderproses af te handel en in Augustus 2022 met die bou van die strukture – betonwerk en baksteenwerk – te begin.
“Bouwerk aan die pad sal dan waarskynlik dieselfde tyd begin.”
Die huidige planne vir wat die ontwikkelaar fase 1 noem, sluit die sentrum, hospitaal, ‘n kantoorkompleks, motorhandelaar, vulstasie en residensiële eenhede in. Hy voeg by dat dit moontlik kan verander en dat die vraag na wooneenhede (verkope) sal bepaal of dit wel gebou gaan word en of die sentrum moontlik vergroot kan word.
Op die planne van die nuwe ontwikkeling word reeds winkels vir Checkers, Checkers Liquor en Clicks aangedui.
Een van die belangrikste aspekte van die ontwikkeling is die toegang en dit het heelwat onderhandelinge en ingryping deur die Swartland Munisipaliteit gekos om ‘n nuwe verkeersirkel goed te keur.
Dié 5-beensirkel wat volgens Nortier sowat R30 miljoen sal kos, sal die huidige aansluiting van die N7 met Voortrekkerweg (oostekant) vervang. Die munisipaliteit het ingegryp en onderneem om daardie gedeelte van die pad oor te neem, toe daar nie goedkeuring verkry kon word nie.
Die konstruksie vir die nuwe verkeersirkel, sê Nortier, is ‘n groot projek en sal moontlik teen Augustus/September aanstaande jaar begin en dit sal sowat ‘n jaar duur.
‘n Verbindingspad tussen die ontwikkeling en die skougronde sal dan Voortrekkerweg (vanaf die sirkel) met Piketbergweg verbind. ‘n Verdere sirkel langs dié pad sal die toegang tot die ontwikkeling asook die huidige skougronde wees.
Nortier voeg by dat Piketbergweg ook geteer sal word tot by die draai (die verste punt van die ontwikkeling) van waar daar ook ‘n toegang tot die nuwe hospitaal sal wees. “Ons wil in die posisie wees waar jy met verskeie roetes na die hospitaal toegang kan kry.”