1ste kliënte in Wesbank op plaaslike snelinternet
Die plaaslike internetdiensverskaffer Cornergate Technologies/Flynet het reeds ver gevorder met die aanlê van hoëspoed-optiesevesel-internet in Malmesbury en pas ook begin om kliënte in Wesbank op dié vinnige netwerk aan te skakel.
Die eerste Wesbank-woonbuurt wat aan die beurt kom, is Newclair.
Hy is “baie tevrede” met dié vinnige internetkoppeling wat hulle nou het, vertel Loren Plaatjies in Kokerlaan. Hy is die eerste kliënt wat daar op die nuwe netwerk aangeskakel is.
Stiaan Carstens van Marturia wat die netwerk vir Cornergate aanlê, sê dit is belangrik om te let op die verskillende tipes internet en veselinternet.
Marturia doen die konstruksie aan dié oop netwerk van Cornergate Technologies wat ook deur ander internetdiensverskaffers gebruik kan word.
Nie alle veselinternetdienste lewer werklik veselinternet tot by die huis (FTTH – fibre to the home) nie.
Met ‘n ware vesel-na-die-huis-netwerk (FTTH) is dit interdaad suiwer vesel sonder koperkabels tot by die modum in jou huis of kantoor. Van daar word dit dan na jou toestel versprei met WiFi of ‘n vaste netwerkkabel. Dit is ook die duurste optiese veselverbindings vir die internetdiensverskaffers.
Daar is egter ook ander verbindings wat nie die vesel tot by jou modum bring nie en dit word ook as optiese vesel beskryf, maar is nie al die pad “ware optiese vesel” nie.
Dit sluit in verbindings soos vesel-na-die-gebou-netwerke (FTTB) of vesel na die buurt of straat. Daarna word dit dan van ‘n sentrale punt versprei via ‘n kopernetwerk (dikwels in geboue) tot by modums of via ‘n sentrale WiFi-stelsel.