Planne op dreef vir Viktoriaanse Loedolffhuis
Die Weskus Kollege het ‘n noodpermit bekom om die proses van restourasie van Loedolffhuis in Malmesbury te begin. Die aansoek is by Erfenis Wes-Kaap ingedien en goedgekeur.

Die idee is om dié historiese gebou van bykans 200 jaar weer tot ‘n Viktoriaanse styl te restoureer, soos vir baie dekades wel die geval was.
Nadat ‘n gedeelte aan die agterkant van die gebou verlede jaar ingesak het, is daar begin met planne om dit te restoureer.
Erfenis Wes-Kaap het in April vanjaar ‘n permit vir die restourasie goedgekeur.
‘n Paar foto’s van Loedolffhuis toe dit ‘n Viktoriaanse styl gehad het, is in die verslag vervat.

Daar was egter nog geen konstruksie werk gedoen toe die voorste gewel ook gekraak en in September ingetuimel het nie. Een van die redes wat aangevoer word waarom daar nie vinniger met herstelwerk begin is nie, is omdat die perseel “as onveilig” beskou is.
Die kollege het erfeniskonsultant Chris Murphy versoek om nou aansoek te doen vir die noodpermit om met die restourasieproses te begin.
Dié permit in terme van Artikel 34(1) van die wet op Nasionale Erfenishulpbronne (wet 25 van 1999) is nou deur Erfenis Wes-Kaap toegestaan.
Loedolffhuis dateer uit ongeveer 1830 en is as ‘n Graad 3A-erfenisperseel geklassifiseer en word ook beskerm omdat dtit ouer as 60 jaar is.
Erfenis Wes-Kaap het die permit wat vir 3 jaar geldig is, goedgekeur op voorwaarde dat ‘n toepaslik gekwalifiseerde argitek met erfeniservaring oor die projek sal toesig hou.


Ook dat die regte boumateriaal gebruik sal word waar van toepassing en dat ‘n voltooiingsverslag binne 30 dae ná die voltooiing van die projek ingedien moet word.
Onder die standaarvoorwaardes tel dié dat bouwerk gestaak moet word indien enige argeologiese materiaal of dié van ou grafte tydens konstruksie ontdek word. Erfenis Wes-Kaap moet dan onverwyld daarvan in kennis gestel word.
Die kollege het, luidens Murphy se verslag, die aansoek gebring “om vas te stel of Erfenis Wes-Kaap die voorstel van herstel van die gebou na sy Viktoriaanse voorkoms sal ondersteun, alvorens planne opgestel word wat dan aan die Swartland Munisipaliteit en ander belanghebbende partye en daarna ook aan Erfenis Wes-Kaap voorgelê sal word.

Dié proses kan nou ‘n aanvang neem.
Volgens aanduidings is die gebou se gewels die eerste keer laat in die 19de eeu verwyder toe dit tot ‘n Viktoriaanse styl verander is. Van dié elemente het tot vandag behoue gebly.
Dit het in een stadium ook ‘n veranda aan Loedolffstraat-kant gehad.
Die gebou is in die 1990’s beskadig toe ‘n vragmotor dit getref het.
In 2005 is dit weer gerestoureer – dié keer met die gewels en rietdak.