First Fridays, kunste dié naweek terug
Die jaar 2022 is al amper ‘n week oud en dit beteken dit is weer tyd vir die Riebeekvallei First Fridays-naweek.
Naas die gebruiklike langer handelsure Vrydagaand en ‘n feestelike atmosfeer, vind die maandelikse mark op die plein in Riebeek-Kasteel Saterdagoggend plaas en Saterdagaand is die veelbekroonde verhoogstuk Gertrude Stein and a Companion by die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) op die planke.

Sondag is dit weer tyd vir die Poetry Jam by Rata met woordkunstenaars uit die streek wat hul werke voordra. Toegang tot die Poetry Jam is gratis.
Die laaste woordkuns-sessies in Desember het twee optredes ingesluit in samewerking met Poetry Africa – die Sentrum vir die Skeppende Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal.
Vier besoekende digters – Lebo Mashile, Diana Ferrus, Thando Fuze en Xabiso Vili – het die gehoor in die Royal Hotel op Riebeek-Kasteel se konferensiesaal geroer, geboei en vasgenael laat sit en ook ‘n werkwinkel met plaaslike digters meegemaak.

Die direkteur van die Sentrum vir die Skeppende Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal, dr. Ismail Mahomed, het aan elk van die plaaslike digters ‘n kontantdonasie gegee en ook aangekondig dat hul gedigte vanjaar in ‘n bloemlesing opgeneem sal word.
