Land se top-juniors trek op Malmesbury saam
Die room van die land se junior toutrekatlete trek aanstaande maand op Malmesbury saam vir die Nasionale Junior Toutrekkampioenskappe met die Malmesbury Toutrekklub wat as gasheer optree.
Die toernooi wat verlede jaar sou plaasvind, is toe weens Covid-19 afgestel en vind nou vanjaar van 17 tot 19 Maart op die Malmesbury Skougronde plaas.
Die voorsitter van die Malmesbury Toutrekklub, Rentia van den Berg, het aan dié courant gesê dit is moeilik om nou reeds te weet hoeveel besoekers dié toernooi oor daardie naweek na die Swartland sal lok, maar met die vorige ronde wat dié toernooi gehou is, het tussen 5000 en 7000 mense dit bygewoon.
Dit is as die grootste toutrekbyeenkoms in die wêreld beskryf en ook een van die grootste skolesporttoernooie in Suid-Afrika.
By die SA Juniorkampioenskappe word sake uitgespook tussen atlete van 6 tot 18 jaar.
Daar word ongeveer 250 spanne met agt atlete en 2 reserwes elk, by vanjaar se toernooi verwag.
Die inweeg sal op Donderdag 17 Maart plaasvind met die kampioenskappe op die 18de en 19de.
Die aksie begin reeds om 08:00 en duur tot ongeveer 16:00 in die middag.
Van den Berg sê daar sal ‘n verskeidenheid stalletjies wees met heerlike eetgoed en drinkgoed.
Die Vrydagaand is daar ook ‘n “steak”-ete met ‘n kunstenaarsoptrede en kontantkroeg. (Hou dié courant dop vir meer besonderhede oor die voorafbesprekings.)
Van den Berg sê daar sal streng by die toepaslike Covid-19 regulasies gehou word.
Kontak Van den Berg met enige navrae by 060 508 5144.