Top-buitelugervarings, volop vermaak by ekspo
Ná die noodgedwonge afwesigheid in 2021 weens Covid-19 is die kykNET Buite-ekspo Wes-Kaap vanjaar met mening terug met ‘n groot verskeidenheid top-buitelewe-uitstallings.
Vanjaar se ekspo word die naweek van 25 tot 27 Maart op die Môreson-plaas naby Tierfontein aangebied. “Streng Covid-19 protokols sal in plek wees soos vereis, om almal – uitstallers en besoekers – te beskerm,” sê organiseerder Marius Opperman van Trio Events.
Die ekspo beloof om, soos voorheen, weer iets vir almal te bied. Die fokus is op die talle aktiewe buitelewe-uitstallings met van die nuutste produkte tans beskikbaar in die buitelewe- kampeer- en 4×4-mark.
Opperman sê een van die aspekte wat die ekspo so gewild maak, is die feit dat dit “in ‘n veilige plaasatmosfeer aangebied word en alle uitstallings word só gedoen soos wat dit werklik gebruik sou word deur die voornemende koper”.
Die program sluit ook weer verskeie aktiwiteite in. Action Ford Malmesbury is weer daar met hul Ford Raptor-ervaring, waar die publiek gratis saam met ervare bestuurders kan ry en sien waartoe dié besondere voertuig van die vervaardiger in staat is.
“Kom ervaar ook die gewilde helikopterritte en bekyk die Swartland uit die lug. “Daar sal weer ‘n lekker braaikompetisie aangebied word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs en moenie vergeet van ons Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie. Onder die gewilde kunstenaars is Rooies en sy orkes, Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Amoré en Early B!
“Kom ry ook weer gratis saam die immergewilde ‘Meneer 4×4’, André de Villiers, in sy VW Amarok. De Villiers van André 4×4 is ook aanbieder van Safari 4×4-roetes op kykNET. Hierdie ervaring is iets wat nie gemis mag word nie.”
Die ekspo maak oudergewoonte voorsiening vir ‘n verskeidenheid feeskos en ‘vloeibare verversings’.
“Dit sluit enigiets van ‘n verskeidenheid wyne in die Swartland Kelder-wyntuin (met heerlike kos wat hierby pas), tot bier en jou gunsteling-hardehout en nog meer in.
“Daar is ook weer ‘n groot keuse van kosstalletjies en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos.”
Opperman sê vir “die dames sal daar ‘n kuns- en snuffelmark met ‘n groot aantal kwaliteit-produkte wees.
“Ons het ook nie vergeet van die kinders nie. Daar sal ‘n lekker groot pretpark wees en Lollos en Lettie verras weer die Sondagoggend met een van hulle treffervertonings.
“Onthou, alhoewel ons baie aktiwiteite aanbied, bly die fokus natuurlik op die top-gehalte buiteleweprodukte op uitstalling.”
Beperkte kampering vir die naweek is beskikbaar op die terrein. Stuur ‘n epos aan admin@moresonmalmesbury.co.za of bespreek die ‘Glamping’-tente by ryno@you2camp.com.
Dagbesoekerkaartjies sal binnekort beskikbaar wees by ticketmaster.co.za en ook by die hekke gedurende die ekspo.
“Probeer asb jou kaartjies aanlyn koop indien moontlik – dit vergemaklik die logistiek by die hekke.”
Besoek gerus die ekspo se webwerf by www.ekspo.co.za of rig navrae aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.