LatestSchoolsSports

H Swartland wen eerste keer in jare tuisinterskole

Johan Viljoen
Die kragmetings tussen die Rockies (Hoërskool Swartland) en Blackies (Hugenote Hoërskool) is oor dekades reeds die “groot” wedstryd van die seisoen van elke sportkode en ook in kultuur by dié twee skole.
Verskeie van hul interskole-kragmetings is natuurlik die laaste twee jaar noodgedwonge weens Covid-19 afgestel, maar dit lyk of daar vanjaar in die meeste kodes wel interskole sal plaasvind.

Een van die sportsoorte waar die spanne van Hoërskool Swartland vir baie jare nie te waffers teen die skool uit die Wamakersvallei gevaar het nie, is krieket.
Swartland se o.19A-span kon verlede jaar, onder leiding van André Pienaar, die bordjies verhang en het met die Krieketinterskole, wat wel in 2021 met die nodige beperkings kon plaasvind, die wendroogte gebreek.
Gister het die Rockies, onder aanvoering van Carlo van der Merwe, op dié noot voortgegaan en ‘n uitmuntende vertoning op hul tuisveld gelewer.
Die Rockies se twee openingskolwers, Lincoln Swarts en Cobus Steyn, het voor ‘n teleurstellende toeskouertal met ‘n stadige begin ankers ingekap en ‘n basis gelê vir hul spanmaats om later die lang steel te kon inlê.

Hulle het meer as die helfte van die kolfbeurt voor die penne deurgebring voor Steyn (21) eerste sy paaltjie verloor het met die span se telling op 70.
Heelparty van die besoekers se boulers het nie so ‘n goeie dag beleef nie en ‘n groot aantal wydlopers afgestuur. Dit het ook bygedra dat die telbord vir die Rockies bly rol het.
Van der Merwe het hom toe by Swarts aangesluit en kort voor lank oopgemaak en die telbord het begin lewe kry.
Toe Swarts (21) b.v.p. betrap is met die telling op 86, het AW Steyn hom by Van der Merwe aangesluit en ‘n goeie vennootskap om die derde paaltjie het gevolg. Van der Merwe het met ‘n uitmuntende kapteinsbeurt ook sy 50-tal aangeteken voor hy met sy telling op 59 (van 75 balle; 7 grenshoue) in die voorlaaste boulbeurt moes terugstap met die tuisspan op 165.

Hierna kon Juriaan Schreuder nie tyd verspeel om sy oog in te kry nie en hy het vinnig 18 lopies aangeteken van slegs 7 balle. Twee daarvan was sesse.
Die spreekwoordelike penne is ná 50 boulbeurte op die tuisspan se kolfbeurt gelig met die telbord op 185 vir 3. AW Steyn was op 20 nie uit nie.
Toe die openingskolwers van Hugenote, André van der Merwe en Cyle Koordom, ná middagete uitstap, het ‘n groot taak gewag.
Swartland het vinnig toegeslaan en vroeg-vroeg was die besoekers diep in die moeilikheid toe drie paaltjies kort op mekaar geval het (Van der Merwe op 2 vir 1; Johan Lategan op 6 vir 2 en Cyle Koordom op 6 vir 3).

Hugenote se kolwers het, anders as die tuisspan, veel vroeër houe begin speel. Hulle het vinniger lopies aangeteken. Die besoekers het goed begin weerstand bied, al het 50 en 100 toe baie ver gelyk.
Die vierde paaltjie het gekantel op 38 gevolg deur die vyfde op 59 en die sesde op 81.
Hugenote moes toe op hul laerorde-kolwers steun en is uiteindelik in die 38ste boulbeurt vir 110 lopies uitgehaal.
Swartland het dié een met 75 lopies gewen.

Vir die tuisspan het bouler Lincoln Swarts ‘n allemintige 7 paaltjies agter sy naam geskryf en slegs 27 lopies in sy toegelate 10 boulbeurte afgestaan.
André Beukes het twee paaltjies geneem (vir 25 lopies) en Jan-Paul Bester het die ander paaltjie geoes toe hy self ‘n uitstekende vangskoot geneem het.
Vir die besoekers het Wessel de Lange (36) die beste met die kolf gevaar. https://www.photofrog.co.za/pro/jbertov/events/2022/1640988000

Leave a Reply

error: Content is protected !!