Inentings/PCR-toetse NIE vereiste by Buite-ekspo
Die 20ste kykNET Buite-ekspo vind van Vrydag tot Sondag op Môreson langs die N7 plaas en die organiseerder, Marius Opperman, het aan dié courant bevestig dat Covid-inentings/negatiewe koronavirus(PCR)-toetse NIE dié naweek vereis word nie.
Opperman verduidelik dié buiteluggeleentheid op ‘n groot terrein is vir die doel van Covid-19-protokol in vier sones opgedeel waar toegang en getalle per sone beperk en beheer sal word.
In terme van regulasies kan ‘n maksimum van 2000 mense GELYKTYDIG in elke sone geakkommodeer word met ‘n totaal van 8000 mense op enige gegewe tydstip op die terrein.
Opperman sê hulle laat in elke sone ruimskoots ‘n buffer van 500 mense (personeel en uitstallers) toe en sal daar ‘n maksimum van 1500 mense addisioneel per sone toegelaat word.
Wanneer ekspogangers ‘n sone verlaat of binnegaan sal dit op ‘n telmeganisme vasgevang word om die getalle noukeurig te bestuur.
Opperman het bygevoeg dat dit waarskynlik van die laaste geleenthede sal wees waar inenting of ‘n negatiewe toets nie vereis word nie.
Besoekers sal by die hoofingang kaartjies kan koop of direk na die kontrolepunte gaan indien hul kaartjies vooraf op die internet gekoop het.
Hier sal hul dan met ‘n ID-dokument of bestuurslisensie toegang tot die terrein kan kry nadat hulle dokumente geskandeer is vir die voorgeskrewe rekorddoeleindes.
Hul sal dan in ‘n gang in beweeg van waar daar toegang na elk van die vier sones – A tot D – is. Hul sal later weer die sones deur dieselfde kontrolepunt verlaat om vanuit die gang na ‘n ander sone se toegangspunt te beweeg. Elke sone het slegs een publieke toegang- en uitgangpunt.
Opperman sê dit is eintlik ‘n eenvoudige stelsel en het ‘n beroep op besoekers gedoen “om asseblief net geduldig te wees.
“Dit sal beslis wys wees om kaartjies op die internet aan te koop, omdat dit ook rye by die ingang sal verkort en vertragings verminder.”
Twee van die sones – A en B – is buite die water en die ander twee – C en D – is aan die binnekant van die water.
Die Arena is binne sone C, wat ook ‘n wyntuin en kosstalletjies huisves. Die kroeg en ander kosstalletjies is in sone D.
Opperman wys ook op die nuwe regulasies dat maskers nie in die opelug verpligtend is nie, maar wel oral waar jy onder ‘n dak of oorhoofse bedekking is.
Die naweek het ‘n propvol program en ‘n groot verskeidenheid buitelewe-uitstallers en vermaak vir die hele gesin – van 4×4-ervarings tot ‘n pretpark, ‘n damesafdeling, karavane en kamptoerusting tot ‘n Jimmy’s Steakhouse Sauces-braaikompetisie en ‘n rits optredes deur top-kunstenaars.
Die kunstenaars op die Hankook-verhoog is Rooies en sy Orkes, Mark Haze, Dani Ville, Oriana van der Westhuizen, Johan Liebenberg, Nadia Louw, Dewald Dippenaar, Desmond Wells, Early B, Wynand Windpomp, Chereé, Amoré en Riaan Grobler.
Natuurlik word daar ook voorsiening gemaak vir volop heerlike feeskos en die nodige versnapering vir die droë kele. Dit sluit ook ‘n Swartland Wynkelder-wyntuin in.
Besoek www.ekspo.co.za vir meer oor die kykNET Buite Ekspo.
Kaartjies is beskikbaar by www.ticketmaster.co.za of by die hekke.