Toutrekvoorsitter bedank dié wat help
Die Malmesbury Toutrek klub het die SA Junior Toutrekkampioenskappe suksesvol by die skougronde op die dorp aangebied.
Voorsitter Rentia van den Berg sê “daar was 276 spanne van oor die land ingeskryf. Dit het ons atleetgetalle op om en by 2000 te staan gebring.
“Ons het oor die verloop van die twee dae tussen 4500 en 5000 mense getrek. Ek is seker ons plaaslike gastehuise, restaurante en talle ander winkels het goed gebaat by hierdie groot sportbyeenkoms.”
Daar was talle stalletjies asook biefstuketes wat in die aande voorberei is deur Marius Foot en vermaak deur die gewilde Christo en Cobus.
“Graag wil ons as klub baie dankie sê vir dié wat wel gehelp het om hierdie ‘n sukses te maak.”
Van den Berg sê die klub se kaalvoete het goed presteer.
“Ons uitslae vir ons klub lyk as volg:
320kg – 2de plek,
360kg – 1ste plek,
400kg – 2de en 4de plek ( 2 spanne ingeskryf),
440kg – 2de plek.
“Ons is baie trots op ons spannetjies. Baie geluk.”
Van den Berg voeg by: “Ons wil ook van die geleentheid gebruik maak om baie geluk te sê aan die Hoërskool Swartland met hulle spanne se prestasies.”
Sy vertel dat dit ‘n lang en moeilike pad die afgelope twee jaar was tot die toernooi uitendelik aangebied kon word.
“Dit is slegs deur die genade van ons Hemelse Vader dat hierdie massiewe kampioenskap ‘n sukses was.
“Die kampioenskap is aan ons toegeken vir 2021, maar Covid-19 het dit gestuit.
“Ons het egter ons voorbereiding van die veld voortgesit.
“Die hele veld is omgeploeg en nuut oorgeplant op eie onkoste.”
Sy voeg by dat hulle ook die veld “vir ‘n jaar op ons eie persoonlike onkostes onderhou het, omdat daar geen ondersteuning” van die Swartland Munisipaliteit of ander instansies was nie. “Ons het gevra, maar alles teen dowe ore.”
“Die kersie op die koek is beslis die munisipaliteit wat dit goed gevind het om alle gaste hartlik in Malmesbury te verwelkom, nadat hulle dit duidelik gemaak het dat geen hulp aangebied sou word nie.
“Dit breek my hart dat daar soveel potensiaal vir ons dorp is, maar dit as gevolg van eie belange nie benut word nie.
“Die toerisme-inspuiting wat geskep is vir ons dorp, was ook nie genoeg motivering vir ondersteuning nie.”