EntertainmentLatest

Hennie Smit by Ekspo; onthou kinderjare op Malmesbury

Hennie Smit, legendariese akteur, musiek- en kosmens, is dié naweek ‘n beoordelaar van die Jimmy’s Steakhouse Sauces-braaikompetisie by vanjaar se kykNET Buite-ekspo op Môreson naby Tierfontein.
Deesdae ‘n inwoner van die Rosestad, gesels Smit, wat al 33 filmrolle en ‘n “hele klomp” TV-rolle vertolk het, met dié courant oor sy kinderdae in die Swartland.

Op die vooraand van sy 79ste verjaarsdag in Mei, onthou hy “die kwaaiste juffrou in die hele wêreld” en ‘n tragedie in die Malmesbury swembad; die ou skougronde en die huis waar hy gebore is in die destydse Piketbergweg.
Baie noem Smit steeds “Bertie” na dié gewilde rol wat hy vir amper twee dekades in Egoli vertolk het. Hy is in Mei 1943, in die oorlogjare in Malmesbury gebore.
“Toe was dit nog Piketbergweg. Dit is nou Voortrekkerweg. Die polisiestasie was op die hoek en ek is gebore binne in die huis drie vier huise hoër op.
“Daar het ek grootgeword. Oorkant ons huis was oom Lou Smuts se winkel.

Hennie (heel links) op Malmesbury met die verjaarsdag van hulle bure se seun, Johan Strauss, saam met Johan se ma en sussie.

“’n Gedagte wat altyd by my bly. Oom Jan Walters het ‘n trêppie gehad. ‘n Perdekarretjie. Ek was baie klein. Ek het altyd saam met hom gery om die hekke oop te maak en môre dan kom ek terug met hom dorp toe, Malmesbury toe.
“Ek het wonderlike herinneringe van Malmesbury. Ek was nog so onskuldig. So dom. As ek maar als geweet het toe.
“Ek onthou 1948 het ek met my tas op my rug met my naam in die boeksak na die Laerskool Swartland toe geloop. Kaalvoet. Dit was om die draai en soggens hier in die winter dan loop ons met ons kaal voete oor daardie gras by die Laerskool Swartland. Wit geryp.

Hennie Smit word oor minder as 2 maande 79.

“Dit was my beginjare.
“Toe was die skoolhoof Mnr. Kemp.
“En onderwysers wie ek baie goed onthou, is Archie Sauerman, Piet Pan Coetzee en die kwaaiste juffrou vir my in die hele wêreld was juffrou Klue.”
Smit vertel van ‘n konsert in die laerskool: “Ek onthou ek moes in ‘n konsert speel met die naam van ‘Georgie Porgie’ … ‘kissed the girls and made them cry’, toe sê ek nee, ek gaan nie die vroumense soen nie, ek is te jonk. En toe speel ek nie.”
Hy vertel van etes by die skool en slegte medisyne. “In daardie dae het ons nog sop gekry vir middagetes of mebos – daardie saamgeperste droëvrugte. En ons het gegeurde melk gekry. Dit was so half ‘n voedingskema. Ons moes elke Vrydag ‘n lekkertjie of iets saamvat. Want ons moes ‘liquid parraffin’ drink en dan moes ons die lekkertjie eet.

Hennie (links voor) saam met sy gesin.

“Ek het musiek geneem by ‘n mnr. George du Toit. Hy was blind. Daar in die Kerksaal daar onder. Ons het nooit ‘n klavier gehad nie. Ek het nog nooit ‘n klavier gehad nie, maar ek speel nou nog as ek by ‘n klavier kom.”
Hulle het “later daar bo langs Huis van Zyl gebly.
“Ek het ook by ‘n Anti van der Merwe daar onder die meisiekoshuis klavier geneem. Soos enige kind was my eerste stuk Chopstix. Later jare het ek op die verhoog vir Sarie Marais op al die verskillende ritmes begin speel.”
Smit vertel hy was verlief op laerskool. “Ek was in st. 5 en toe is ek verlief op ‘n meisiekind wat daar op pad Riebeek-Kasteel toe gebly het. Dan het ek altyd met die fiets gery net om te kyk of ek haar nie sien by die plaas loop of so iets nie.”

Hy sê dit was “mooi dae”, maar daar was ook tragedie. Smit vertel van ‘n tragiese dag.
“Wat vir my traumaties was en ‘n geweldige indruk op my gemaak en ‘n letsel gelos het, was een dag toe ons in st. 5 was. Toe gaan swem ons in die swembad daar by Janoulis se kafee oorkant die Handelshuis. Toe gaan swem ons daar en Pietie Uys duik in.
“En hy het nooit weer opgekom nie. Hy was my vriend en hy het homself doodgeduik in daardie swembad.”
Smit onthou ook “ons het baie op die Klipkop uitgestap. Ek onthou die koekemakrankas. Daardie deel waar jy uitry Moorreesburg toe aan die regterkant was veld. Daar was nie huise nie.”

in 1960: Agter staan Jacques, sy vrou Scotty, Susan en Ponkie. Voor sit Hennie by sy Pa, Ma en Johan

Hy vertel: “Skuins oorkant die polisiestasie was ‘n dubbelverdiepinghuis waar mense gebly het. Ons het later op die oorkantse hoek bokant die Corner Garage gewoon. My pa het toe by die garage gewerk. My pa was ‘n mechanic sy hele lewe. Nadat hy uit die oorlog uit gekom het vir Jan Smuts in 1945. Hy het ook op die paaie gewerk.
“Ons was nie ryk nie. Ons was arm, dink ek. Maar ek het nie geweet wat is arm en wat is nie arm nie. Ek het nie geweet van ryk mense nie. Maar ek het geweet daar was mense wat minder gesukkel het.
“Ons was net gewone landsburgers. Saterdae gaan kyk hoe speel Samou teen Malmesbury. Ook Piketberg. Dit was ons grootste vyande. Dan het ons gaan rugby kyk. My Pa het krieket gespeel.
“Weet jy was die lekkerste. Die skou. Die landbouskou was daar in West Bank. Vir ons was die wonderlikste ding Bokomo wat die Rice Crispies in sulke klein minipakkies uitgedeel het. Ons kon nie wag nie.
“Ek onthou die mense wat met die muile gery het daar op die skougronde.”

Toe is hy hoërskool toe.
“In 1956 is ek na die Hoërskool Swartland. Toe was Mnr. Bouwer die skoolhoof.
“Van my vriende wat ek onthou, is mense soos Louis Fourie, Slabbert du Toit, Lindsay dy Plessis, Andries Landman (sy pas was die predikant), Suretha Louw… ag ek wens ek kan hulle almal onthou.
“Die Van Aardes het langs ons gewoon.
“Die hoërskoolloopbaan by Hoërskool Swartland was kort – net 6 maande. Van daar af het ons toe Groot Drakenstein toe getrek.”
Oor sy familie en Malmesbury.
“My familie is almal oorlede.
“Dit is nog net my nefie Pieter van Aswegen wat daar woon.

Later. Agter: Johan, Hennie, Ponkie en Jacques. Voor sit suster Susan, Pa Hendrik en Ma Susan.

“Malmesbury sal ek nooit vergeet nie. Malmesbury het vir my ‘n bekoring. Ek sien myself as ‘n klein seuntjie. Malmesbury het my goed behandel. Hy het my goed grootgemaak. Hy het vir my baie herinneringe geskep. Dit was wonderlike dae. Ek is bly ek het op Malmesbury grootgeword.”
Oor sy grootwordwêreld het Smit ‘n lied ingesluit op sy album: Hennie Smit In konsert… Uiteindelik!.
Die lied Swartland is deur Elizabeth Fourie geskryf nadat hy haar gevra het en als oor die streek vertel het.

Swartland

In die hartjie van die Swartland lê ‘n dorpie naby Darling in die Paardebergkontrei
Waar die koringlande goud staan oor die rante moet jy afdraai en deur Malmesbury ry
Ek onthou nog die Malmesbury-mense en die taal wat hul so lekker rondrol in die mond
Ek onthou nog die wingerd en die druiwe en die hawer uit die Malmesbury-grond

Ja ek onthou nog die kaalvoetkinderdae, die lukwarte en die vye wat ons pluk
Ek onthou koekemakrankas en kalkoentjies en die valkblomme soos arms vol geluk
In die hartjie van die Swartland lê ‘n dorpie naby Darling in die Paardebergkontrei
Waar die koringlande goud staan oor die rante moet jy afdraai en deur Malmesbury ry

Ek onthou nog die sperwers so teen skemer wat kom rus vaar in die bome vir die nag
Ek onthou nog die voetpad na die klipkop en ek wonder of jy nou nog vir my wag
Ja ek onthou nog die warm somerdae en die winter as dit aanmekaar bly reën
En al woon ek lankal nie meer daar nie, gaan ek dikwels in gedagtes nog daarheen

In die hartjie van die Swartland lê ‘n dorpie naby Darling in die Paardebergkontrei
Waar die koringlande goud staan oor die rante moet jy afdraai en deur Malmesbury ry
Waar die koringlande goud staan oor die rante daar moet jy afdraai
daar moet jy afdraai en deur Malmesbury ry

*Smit vertel hy was al ‘n paar keer op Môreson waar die Buite-ekspo hierdie naweek van Vrydag tot Sondag plaasvind.
Die eienaars “Koos en Marié Hoffman het ek ontmoet op ‘n eienaardige manier toe ek waterblommetjies gesoek en hul gebel het.
“Ek en sy het boesemvriende geword. Hulle is goeie vriende. Hulle is goed vir my. En ek kuier graag by hulle.”
Oor sy kosbeoordeling sê hy “kos is mos maar my forte. Mense loop my raak en sê hulle onthou my soetpatatresep en my wildresepte. Ons het nie die voorreg van baie wild in Malmesbury gehad nie. Dit was maar kleinwild. Ek onthou daar na Hopefield se kant toe was riete. En daar het hulle steenbokkies en klein bokke geskiet.
“Hulle kan vir my maar enige kos gee om te beoordeel. Van paella tot askoeke. Ek ken alles.”
Die Jimmy’s Steakhouse Sauces-braaikompetisie waar Smit as beoordelaar gaan optree, is Saterdag op die program by die Ekspo. Maak seker jy loop dit nie mis nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!