Komitee bekyk toekoms van Malmesbury skougronde
Die toekoms van Malmesbury skougronde sal nou deur ‘n spesiale komitee van Agri Malmesbury bekyk word nadat ‘n nuwe aanbod vir die grond ontvang is.
Die voorsitter van Agri Malmesbury, Thys Basson, het lede by vanaand se Algemene Jaarvergadering die geleentheid gegee om die nuutste verwikkelinge en pad vorentoe te bespreek.
Truter de Kock van die De Grendel Landgoed wat die aanliggende ongeveer 10ha landbougrond (erf 11203) van die hand gesit het waar die nuwe De Zwartland Werf-ontwikkeling nou begin, het vertel dat hy onlangs saam met die voornemende koper op die skouterrein (erf 2654 – ongeveer 10,3ha) was.
De Kock het gesê “ná gesprekke met Joggie(Scholtz)-hulle, met die munisipaliteit, dink ek nie ons gaan vyf jaar nog sit met die skougronde nie. Hulle kry baie moeilikheid van die buurt en hulself wil dit daar weg hê.
“Joggie-hulle het al gaan kyk wat gebeur sou die skou die dag verkoop. Wat die bepalings was van die skenking van die grond – wat sou met die geld gebeur? Gelukkig vir ons is daar nooit vasgeteken (die dokument is blykbaar daar, maar dit is nooit geteken nie) dat as die skougronde verkoop, die geld teruggaan na die munisipaliteit toe nie.
“Op die huidige stadium het ‘n man vir my gekontak met ‘n aanbod.” Hy het bygevoeg dat die skougenootskap (skoukomitee) gereeld aanbiedinge kry.
“Ek dink ons almal sit met ‘n verwagting van ons gaan R30 miljoen kry vir daardie skougronde. Ek moet vir julle sê ek is nou self daardeur. Jammer om julle “bubble” te bars. Ons gaan dit nie kry nie. Dit is nie die klas geld wat die mense betaal nie. Die terrein is nog op vlakke ook wat dit baie moeilik maak.
“Ek het nou die dag met die ou daar gestap. Ek wil net verklaar ek kry nie ‘n sent daaruit nie. So asseblief ek is nie ‘n eiendomsagent nie.”
Hy het voorgestel dat daar ‘n komitee saamgestel word uit die boere, die sakekamer en twee of drie ander mense om na die opsies te kyk.
“Gaan ons ‘n stuk grond koop. Gaan ons ‘n klein skou bou, gaan ons ‘n onthaalsentrum staanmaak of gaan ons die geld belê?
“Dit help nie ons gaan die ding verkoop en ons maak iets staan en die dorp ondersteun ons nie.”
John Dürr het voorgestel dat Agri Malmesbury se nuwe bestuur wat vanaand verkies is, die komitee saamstel. Dié voorstel is aanvaar.
Charl Bezuidenhout het gesê die Landbougenootskap se NPO-registrasie is nog in proses en dit is baie belangrik dat dit afgehandel word voor die skougronde verkoop word.
Hy het daarop gewys dat die oprigtingsdokument van die skou bepaal dat indien die landbougenootskap ontbind, die geld na Agri Malmesbury toe moet gaan.