Hoër landbouproduksie nodig teen insetkostes – Jooste
Die onsekerhede in die landbou met onder meer die skerp stygings in insetkoste is ekstern en dit is hier om te bly.
Só het prof. André Jooste van die departement landbou-ekonomie aan die Stellenbosch Universiteit gisteraand gesê by die Algemene Jaarvergadering van Agri Malmesbury.
Jooste het gepraat oor die tendense in die graan- , vee- , en wynbedrywe en die invloed van wêreldgebeure.
Hy het ook melding gemaak van die finansiële sektor wat oor die laaste jare ‘n al groter eienaarskap in die landbousektor gekry het.
Dit is belangrik, sê Jooste, dat boere moet bybly en dat rekordhouding en diversifisering van die belangrikste metodes is om beter te kan boer.
Jooste sê as daar komponente van ‘n boerdery is wat ander komponente vir te lank kruissubsidieer, boer die landbouer agteruit.
Hiervoor, sê hy, is akkurate rekordhouding van kardinale belang om presies te weet hoe die insetkostes en die uitset lyk.
Volgens hom raak die gaping tussen bruto en netto inkomste al groter weens die sogenaamde kosteknyptang.
Verhoogde produktiwiteit is dus al noodsaakliker vir volhoubare boerdery en hier is die gebruik van tegnologie en beter boerderypraktyke van die sleutels tot sukses.
Omdat die uitset dikwels ekstern deur markkragte bepaal word, is die beheer van insetkoste baie belangrik.
Hy het gesê studies het gewys dat die gemiddelde insetkoste vir koring in die Swartland-streek verlede jaar R9160/ha was teenoor die R8056/ha in 2015.
Die vyf grootste uitgawes in dié verband in 2021 was (in volgorde) kunsmis, onkruidbeheer, plaagbeheer, brandstof en saad.
Oor die skerp stygings in kunsmispryse het hy verduidelik dat die fabrieke weens Covid-19 nie geproduseer het nie en die aanbod van die produk dus afgeneem het. Voorts was daar konflik tussen die VSA en Rusland oor fosfaatuitvoere en toe het Rusland en Sjina ook hul uitvoer van dié produk begin beperk met die resultaat dat die pryse nog verder gestyg het.
Kunsmiskostes het sedert Januarie 2020 met byna 200% gestyg. Die stygings het reeds in September en Oktober begin en die oorlog in die Oekraïne het dit net aangehelp.
As die insetkostes nog verder styg, het hy gesê, sal die opbrengs per hektaar al meer krities raak om volhoubaar te boer.
Jooste meen dit is belangrik dat die boerdery en navorsing baie nader aan mekaar beweeg om beter resultate tot gevolg te hê. Hy het daarop gewys dat in ‘n groot ekonomie soos die VSA sowat 5% van die BBP aan navorsing bestee word, terwyl dié syfer in ons veel kleiner ekonomie maar rondom die 1% van die BBP is.
Oor die vleisbedryf het Jooste gepraat oor die verbruik van die verskillende soorte vleis. Die huidige verbruik van hoender per capita per jaar in Suid-afrika is ongeveer 40kg. Dit is aan die styg en die verwagting is dat dit in 2026 by die 45kg kan wees.
Dié vir skaap en bees en vark is aansienlik laer en daardie tendense wys dat waar daar wel stygings is, dit aansienlik kleiner is en selfs meer sywaarts beweeg.
Beesvleis toon die tweede grootste styging.
Hy het oor die vleisbedryf ook gesê dat Suid-Afrika ver agter ander lande is met die naspoorbaarheid van vleisprodukte.
Oor die wynbedryf sê Jooste die aanduiding is dat die totale wyndruifoes vanjaar sowat 5% kleiner sal wees as dié van verlede jaar.
Hy het ook gepraat oor groot wynvoorrade wat nog weggewerk moet word en dat insetkostes vir 2023 sowat 15% sal styg van die insetkoste vir 2022.