Swartlandse tiener slaan Duitse beurs vir doktorsgraad los
Die jong Hjalmar Rall van Riebeek-Kasteel wat reeds op die ouderdom van 14 met sy BSc-graad aan Tuks begin het, mik om op die ouderdom van 19 in Augustus sy meestersgraad in kwantumfisika by Stellenbosch te voltooi.
Hy het pas ‘n splinternuwe navorsingsbeurs (fellowship) in die nuwe Munich Quantum Valley (MQV) losgeslaan om in Oktober vanjaar daar met sy doktorale studies te begin.
Die sewe genote aan wie elk ‘n drie jaar-beurs toegeken is, sal hul navorsing doen by een van die universiteite daar. Rall sal tuisgaan in die universiteitsdorp Garching waar die betrokke fakulteite ook is. Dit is so 10 km vanaf Munchen.
As als dus volgens plan verloop, kan dié jong Swartlander sy PhD (doktorsgraad) reeds op die ouderdom van 22 voltooi.
En dan? “Ek sal waarskynlik in die akademie in navorsing bly, omdat ek glo dit is waar ek die grootste bydrae in dié nuwe veld sal kan lewer.”
Rall was op Laerskool in CPM op Malmesbury en Laerskool Riebeek-Kasteel voor hy met tuisonderrig begin het.
Hy vertel dat die veld waarin hy navorsing doen in leketerme die ontwikkeling en ontsyfering van prosesse is om die kwantumrekenaars optimaal aan te wend in komplekse wiskundeberekening om dit eksponensieel vinniger in ‘n fraksie van die tyd te kan doen met onder meer gelyktydige (paralelle) berekenings. Hierdie berekenings kan nie deur gewone rekenaars gedoen word nie. Die toepassing daarvan lê oor ‘n wye veld waar ingewikkelde wiskundige berekeninge gedoen word en sluit die finansiële, chemiese en farmaseutiese sektore in.
Hy sê “ons verstaan nog nie heeltemal hoe kwantumrekenaars werk nie, omdat dit so betreklik nuut is en daarom doen ons nou die navorsing om meer kennis op te doen.”
Sy doktoraal sal oor metingsgebaseerde kwantumberekening handel en hy glo die uitkoms sal ‘n invloed hê van toepassing op dié rekenaars wat in die volgende 10 jaar so gebou gaan word.
Die Duitsers het die behoefte en geleentheid raakgesien en daarom nou die Munich Quantum Valley geskep om die kern van dié kwantumrekenaartegnologie te vorm.