Talle vrae oor veiligheid by Malmesbury A
Die ontsnapping verlede week van drie “verhoorafwagtende gevangenes” by die Malmesbury Medium A korrektiewe sentrum, het vrae oor dié fasiliteit se veiligheid laat ontstaan.
‘n Woordvoerder het vroeër gesê die omstandighede rondom die ontsnapping word tans ondersoek.
Sover bekend was een van die drie “verhoorafwagtende gevangenes” wat ontsnap het, met hierdie skrywe nog op vrye voet.
Die gevangenis wat langs die Dalsig-woonbuurt in Malmesbury geleë is, is bykans 25 jaar gelede in Desember 1997 geopen.
Ontwerp om volgens een bron ‘n bietjie meer as 1300 gevangenes te huisves (‘n ander bron sê slegs 1010), is dit destyds as ‘n moderne nuwe era-modelsentrum van sy soort beskryf met ‘n fokus op rehabilitasie.
Daar word tans talle vrae in die gemeenskap gevra en kommer uitgespreek oor of alles by die fasiliteit nog na behore funksioneer en of dit steeds veilig is vir inwoners van die aanliggende woonbuurt.
Hier is van die talle vrae:
1.Word daar baie verhoorafwagtende gevangenes gehuisves? Indien wel, hoekom? Was dit aanvanklik die plan? Maak regulasies voorsiening dat verhoorafwagtende gevangenes geel oorpakke moet dra terwyl gevonniste gevangenes oranje uitrustings dra? Indien wel, waarom het die gevangenes wat ontsnap het private klere gedra? (Volgens een bron – ‘n doktorstesis in 2009 – was daar tydens ‘n opname op 31/12/2008 slegs 1 verhoorafwagtende gevangene by die Malmesbury Medium A-korrektiewe sentrum.) Is die sentrum ontwerp/geskik vir verhoorafwagtende gevangenes?
- Werk die seldeure van die selle na behore en word die beheerkamer(s) met genoeg mense beman?
- Vir hoeveel gevangenes en personeel is die fasiliteit ontwerp en hoeveel gevangenes en personeel is daar tans? Is daar meer gevangenes as waarvoor die fasiliteit gebou is? Met ander woorde is dit oorvol? Indien wel, hoekom?
- Is die fasiliteit ontwerp en gebou vir twee gevangenes per sel? Was die drie gevangenes wat ontsnap het saam in een sel? Indien wel, waarom was daar dan meer as twee in een sel?
- Is dit waar dat die fasiliteit ook ver, tot soveel as bykans 50%, onderbeman is in terme van die oorspronklik personeelplan? Indien wel, hoekom?
- Hoe het die ontsnaptes dit reggekry om die seldeur oop te maak/dwing en waarom het die beheerkamerpersoneel dit nie opgetel nie? Of is daar nie ‘n beheerkamer waar dit gemonitor word nie of werk die stelsel nie of is daar nie genoeg personeel nie?
- Is bewerings waar dat gedeeltes van die veiligheidsinfrastruktuur lankal reeds nie meer werk nie en met ander slothekke vervang is eerder as om die stelsel te herstel?
- Hoe het die ontsnaptes dit reggekry om oor drie hoë draadheinings (waaronder minstens een ‘n elektriese heining) te klim nadat hulle glo ‘n gat in ‘n plafon/dak gemaak het? Is daar nie personeel of kameras wat die omheining dophou nie en is die drade nie geëlektrifiseer nie?
- Wat kan en gaan gedoen word om die fasiliteit weer na behore te laat werk ook in belang van die veiligheid van die dorp en sy mense?
- Kan en sal die Swartland Munisipaliteit as plaaslike owerheid en/of die politici op die munisipale raad hierdie kwessie as ‘n saak van uiterste dringendheid met die regte partye hanteer om ‘n dringende oplossing vir die hele gemeenskap te kry? Is dit die plaaslike owerheid en politieke leiers se plig om na inwoners se veiligheid ook om te sien?
- Met verlede week se ontsnapping was daar byna pandemonium in van die woonbuurt se strate met die ontsnaptes wat, soos die vroeë aanduiding is, deur die woonbuurt beweeg het met die gepaargaande lewensbedreigende risiko vir inwoners. Daar is selfs aanduidings dat skote afgevuur is. Is só ‘n situasie aanvaarbaar? En hoe kan dit verhoed word?