FEATUREDNewsSports

Lillies begin goed; pak Koringberg

Die manne van Abbotsdale het Saterdag hul ligaverpligtinge teen Saron afgeskop. Die Lillies het ’n redelike jong span in die veld gestoot en moes omtrent hul storie ken gedurende die eerste helfte van die wedstryd. Alhoewel Saron met die wind van voor gespeel het, kon hulle steeds in goeie gebiede van die veld rugby speel om Abbotsdale deurgaans onder druk te hou. Maar die Lillies se voorspelers Junaid Afrika, Shane Niemand en Milroy Isaacs het telkens hul span op die voorvoet geplaas met hul kraglopies.

Met die rustyd telling op 24-10 in die guns van Abbotsdale en Saron wat in die tweede helfte met die wind van agter sou speel, was die wedstryd alles behalwe gewen.
Abbotsdale se plan om die bal in die hand te hou in die tweede helfte het die besoekers sonder antwoorde gelaat. Die Lillies het aanval op aanval geloods en was nie skugter om die bal wyd te speel nie.

Abbotsdale se voorspelers besig met een van hul kenmerkende rolmaalbewegings.

Dit was veral die breekslag van die plaasvervangerstut, Eschel Josias, wat die skare op hul voete gehad het terwyl die heelagter Kurt-Lee Klaasen en losskakel Godwin Goliath Saron telkemale aan die raai gehou het. Klaasen en Shane Niemand is elk met twee drieë beloon terwyl Berthrum Gysenberg 20 punte – ’n drie, ‘n strafdoel en vyf doelskoppe insluit – aangeteken het.

Puntemakers: Drieë: Curt-Lee Klaasen (2); Sergio Prins: Bertrum Gysenberg; Shane Niemand (2); Eschel Josias. Doelskoppe: Gysenberg (5). Strafdoel: Gysenberg (1)
Abbotsdale se tweede span moes 14-12 die knie buig teen Saron nadat hul in die grootste deel van die wedstryd die oorhand gehad het.
Die derde span se wedstryd was afgestel.
Abbotsdale reis die komende naweek na Koringberg, beslis ‘n tawwe span om op hul tuisveld te klop. – (Heinrich Robertson – mediabeampte)

Leave a Reply

error: Content is protected !!